Nou verkeerseilande se beurt!

Die plantkenner-egpaar van Oudtshoorn, dr AnneLise Schutte-Vlok (heel links) en Jan Vlok (regs), het na vore gekom as vrywilligers om van Oudtshoorn se verwaarloosde verkeerseilande naby die dorpsingang vanaf Calitzdorp ’n nuwe baadjie te gee en die week met oorgawe begin werk. By hulle is die munisipale span wat saam met hulle werk, van links Dirk Jansen, Harriet Samson, Marcello Prins, Elrieco Afrika en Anita Stanley. Foto: Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux
DIE verfraaiing van die ingang van Oudtshoorn vanaf Calitzdorp het die week ’n nuwe fase binnegegaan met twee bekende plantkenners, die egpaar Jan Vlok en Annelise Schutte-Vlok, wat be­gin het om van die verkeerseilande by die hoek van Voortrekker- en Parkweg te takel.

Die Vlok-egpaar, onder meer bekend as die skrywers van die boek Plants of the Klein Karoo, beoog om die verkeers­eilande met inheemse plante wat droog­tebestand is te verfraai.

Hulle is nog twee inwoners wat hul kundigheid en tyd vrywillig beskikbaar stel om die dorp te verfraai. Die verfraaiing van die verkeerseilande is as ’t ware die tweede fase van die verfraaiing van die dorpsingang vanaf Calitzdorp, na die groot werk wat die afgelope drie maande by die ingang onder die leiding van twee ander inwo­ners, Ronell Louw en Elmarie Lategan, gedoen is.

Jan, ’n botanis, en Annelise, wat in diens is van CapeNature en die koördineerder is van die Gouritz Biosfeer Forum, het vandeesweek hul dagtake tersyde gestel om self met grawe en tuinvurke in te spring op die verkeerseilande.

• Inwoners en besoekers kan gerus gedurende die dag ’n draai gaan maak waar die Oudtshoorniete so fluks werk. Moedig hulle aan en bedank hulle. Die Hoorn hoop hulle inspireer nog inwoners om ook hul hulp, kennis en tyd aan te bied om van die dorp se ander ingange te verfraai.

Die Hoorn het verlede week ook berig oor Santa Cassara wat ’n leë erf op die hoek van Reserwe- en Noordstraat skoonmaak en verfraai.