Verskeie sake van diefstal uit voertuie

Die ruit van Karina en Robert Haynes se motor wat stukkend geslaan is. Fotos verskaf

Die ruit van Karina en Robert Haynes se motor wat stukkend geslaan is. Fotos verskaf

Deur Ilze-Mari Gründling
VERSKEIE sake van diefstal vanuit voertuie is die afgelope tyd gerapporteer, sê kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie.

“In hierdie stadium is daar nie enige aandui­ding dat dit dieselfde persone is wat die misdade pleeg nie,” sê hy.
Volgens Visser het twee onlangse voorvalle in die dag in Hoogstraat in die middedorp voor­gekom. In een van die gevalle was die voertuig se ruit oop.

Nog twee voorvalle het oornag naby Baron’s Palace voorgekom. In die een geval is klanktoe­rusting, ’n bril en ’n babastoeltjie gesteel.

In Adderleystraat is gepoog om in te breek by ’n motor waarna die alarm afgegaan het.
Visser sê verskeie sake is ook vroeër die maand aangemeld.

Volgens kapt Wynand du Plessis, sektorbevel­voerder van Oudtshoorn-Noord, het motorinbrake ook al plaasgevind in Reserwe-, Hill- en Gillies­straat asook die hoeke van Hoog- en Victoriastraat.

“Dit is skrikwekkend hoe mense waardevolle items in hul motors los wat skollies se aandag kan trek,” sê hy.

Twee slagoffers van so ’n gepoogde inbraak die afgelope naweek was Karina en Robert Haynes van Beaufort-Wes. Volgens Karina het hulle by familie op Oudtshoorn gekuier toe een van hul motor se ruite uitgeslaan is.

“Die beste van alles is dat daar niks in die kar was nie. Die skade is so onnodig,” sê sy.

Die Oudtshoorn Polisie het vandeesweek die volgende wenke gegee om diefstal vanuit voertuie hok te slaan:
• Moenie waardevolle items soos beursies, donkerbrille, elektroniese toerusting, selfone en skoot­rekenaars in ’n voertuig los nie.
• Sluit altyd jou voertuig. “Moenie misdadigers die geleentheid gee om goedere uit jou voertuig te steel nie. Hulle het nie baie tyd nodig nie,” sê kapt Visser.
• Maak seker die vensters is toe. Soms is ’n venster heeltemal oop en dan lyk dit asof dit toe is.
• Moenie ’n voertuig op ’n stil, verlate plek parkeer nie.
• Probeer om jou voertuig in ’n verligte plek in die nag, byvoorbeeld onder lamppale, te parkeer.
• Parkeer die voertuig binne ’n erf eerder as in ’n straat.
• Verwyder uittrekradio’s.
• As jou voertuig met ’n afstandbeheer sluit, maak seker dit is gesluit. Moenie wegloop, die knoppie druk en dink die voertuig is gesluit nie.
• Moet nooit goedere onbewaak agterop ’n bakkie los nie.