

Die gewilde Jo Black (heelbo-links), Refentse (heelbo-regs) en Mi Casa (bo) is almal vanjaar te sien in die Kuierbuurt by die KKNK. Foto’s verskaf
“DIE KKNK se splinternuwe Kuierbuurt bied hope familievermaak vir oud en jonk en feesgangers kan daarna uitsien om daagliks hier te kuier,” sê Hugo Theart, waarnemende uitvoerende hoof van die KKNK.
Feesgangers kan tussen Donderdag 29 Maart en Woensdag 4 April dié Kuierbuurt vind op die Rec en die Vredestraat Sportterrein in Oudtshoorn. Die fees word in die skoolvakansie aangebied.
Volgens Theart bied kaartjies na die Kuierbuurt uitstekende waarde vir geld, veral die gewilde weekkaartjies. “ ’n Weekkaartjie kos slegs R255 en bied toegang tot onder meer die stalletjies, rusareas, kroeë en ses aandkonserte op die Huisgenoot-verhoog,” sê Theart.
Die Huisgenoot-verhoog se ses aandvertonings word vanjaar in die vorm van piekniek-konserte aangebied. “Ons moedig almal aan om ’n stoel of kombers te bring, die kosstalletjies en kroeë te ondersteun en musiek deur van ons land se topkunstenaars te geniet,” sê Theart.
Awê Kaktus (29 Maart 19:30) skop die aandprogram ’n bietjie anders as in die verlede af, wanneer musiek deur Mi Casa, Spoegwolf, Matthew Mole en Majozi ’n heerlike partytjie-atmosfeer beloof.
Die ander aandkonserte is:
• kykNET – Dans op die vlaktes (30 Maart 19:30) met Kurt Darren, Leah, Craig Lucas (The Voice), Paxton (Idols) Germandt Geldenhuys (Binnelanders), Stephanie Baartman (Getroud met rugby) en ander kunstenaars.
• Karoo-nag (31 Maart 19:30) met Adam Tas, Refentse, Joshua na die Reën, Karin Kortjé, Caroline Grace, Gail & Malcolm Arendse en Fatman.
• Boontoe: Engelstemme (1 April 19:30) bied ’n mengsel van tradisionele, sekulêre en geestelike liedjies met Jo Black, Robbie Wessels, André Terblanche, Corlea Botha, Thembeka, Kyle Seconna, die Hoërskool Oudtshoorn se Ad Astra-koor en orkes, Melissa van der Spuy, Tim Rankin, Henry Steele en Schalk van der Merwe.
• Sterrenag – Musiek met hart (2 April 19:30) bring vir Snotkop, Jay, Brendan Peyper, Leah, Willem Botha, Pieter Koen, Caroline Grace, Fatman, Lee Scott, Jan Bloukaas, Early B, Vernon Barnard, HemelBesem, Chris Else, Elwira Standili en Gerrie Pretorius op die verhoog bymekaar.
• Rymklets van Oos tot Wes (3 April 19:30) sluit die aandprogramme af. Met HemelBesem, Yoma, Early B, Oxijin, Dj J-EFX, Yugi Yo en MC IXA.
Die Kuierbuurt spog ook vanjaar met die nuwe Castle Lager-verhoog waar nuwe talent én ou be-kendes vanaf 12:00 daagliks tot laataand feesgangers gaan vermaak.
Die jongspan word in die Kuierbuurt besig gehou met verskeie Uitkampteater-produksies (R20 per vertoning), asook voorlesings uit kinderboeke en ander pret, waaronder Crafty Kids se kreatiewe werksessies by die ATKV-Speelbos.
• Dagkaartjies kos R85 per dag en R50 op 4 April. Kinders o/14 met ouerbegeleiding betaal slegs R10 per dag.