Twee vas nadat Polisie optree teen smokkelaars

11 Ls Drugs

’n Gedeelte van die dwelms (bo) en drank (links) waarop die Ladismith Polisie, die Attakwa Honde-eenheid en lede van die openbare orde-polisiering (Pops) beslag gelê het.  Foto’s verskaf

’n Gedeelte van die dwelms (bo) en drank (links) waarop die Ladismith Polisie, die Attakwa Honde-eenheid en lede van die openbare orde-polisiering (Pops) beslag gelê het.
Foto’s verskaf

• Beslag gelê op 189,5 liter drank

TWEE mans van Zoar wat na bewe­ring met onderskeidelik drank en dwelms handel gedryf het, het hulle verlede week in die ystervuis van die gereg vasgeloop.

Volgens ao Jan Cederas, woord­voerder van die Ladismith Polisie, is die mans vasgetrek tydens ’n gesamentlike operasie teen smokkelaars deur die Ladismith Polisie, die Attakwa Honde-eenheid en lede van die openbare orde-polisiering (Pops).

Die optrede was verlede Dinsdag, 6 Julie.

Verskeie huise in Ladismith en Zoar is die dag tussen 10:00 en 11:30 besoek.

Pojie sê die polisie het ’n 57-jarige man omstreeks 12:10 in Vyfdelaan, Zoar in hegtenis geneem vir handel­dryf in drank sonder ’n lisensie nadat beslag gelê is op 189,5 liter drank.

Om 12:30 is ’n 45-jarige man in Droëvlei, Zoar in hegtenis geneem vir die besit van dagga, tik en Mandrax nadat beslag gelê is op 624 gram dagga, ses gram tik, vyf tikstrooitjies en agt Mandrax-tablette.
Die polisie het in beide gevalle oor visenterings-lasbriewe beskik.

Albei mans het reeds verlede Vrydag in die Ladismith Landdroshof verskyn.

Die hoof van sigbare polisiering, kapt Henry Edwardes, het die polisiebeamptes geprys en Pops en die Attakwa Honde-eenheid bedank vir hul steun.