Nagklub-moordsaak nou na Streekhof

Deur Garnett Wicomb
DIE saak teen ’n man van Oudtshoorn wat daarvan aangekla word dat hy Kersfeesaand verlede jaar ’n jongman by ’n kuierplek, Face da Bass, doodge­steek het, is in die Oudtshoorn Landdroshof vir ’n streekhofdatum tot volgende maand uitgestel.

Die 23-jarige Alfonso Malgas wat tereg staan op ’n klagte van moord na die dood van die 19-jarige Adrian Oliphant, het met sy borgaansoek aangedui dat hy onskuldig sal pleit.

Die staat en die ondersoekbeampte, ao Martin Le Roux, het borgtog teengestaan.

Landdros Roelf Konstabel het Malgas se borg­tog van R1 000 asook sy borgvoorwaardes verleng en die saak tot 16 Maart uitgestel.

Hy mag nie met die staatsgetuies in kontak kom nie en ook nie van adres verander sonder die wete van die ondersoekbeampte nie.