Makelaar ontken skuld

Deur Garnett Wicomb
Hy erken dat hy met toestemming in 2008 ’n bedrag van R863 000 by me A Swart/die JJ Swart Testamentêre Trust, geleen het en dit in Augustus 2014 met rente ten volle vereffen het.

So lui ’n pleitverduideliking wat die makelaar, Barend Petrus de Wet, se regsverteenwoordiger, Vaughn Shone, gisteroggend in die Oudtshoorn Streekhof voorgelees het. De Wet pleit onskuldig op sewe aanklagte van diefstal deurdat hy glo in 2007 en 2008 die bedrag van R863 000 van die JJ Swart Testamentêre Trust sou gesteel het.

Hy was aangestel as eksekuteur van die boedel van wyle Jacobus Johannes Swart asook as trustee van die Testamentêre Trust.

Die eerste staatsgetuie, Sakkie Basson, het gister breedvoerig getuig hoedat De Wet by verskeie geleenthede bedrae van die Trustre­kening na sy eie oorgeplaas en dit later terugbetaal het.
Die saak dien voor streeklanddros Daniel Boks.