Deur Ilze-Mari Gründling
Die Oudtshoorn Polisie ondersoek ’n klagte van roof nadat ’n vrou omstreeks 11:45 gisteroggend in Voortrekkerweg van haar handsak beroof is.
Die voorval het in Wesbank nie ver van die Oudtshoorn Spar af nie, plaasgevind.
Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het ’n 27-jarige man die vrou se handsak gegryp en weggehardloop. Hy het daarna die handsak vir ’n ander persoon gegee, maar in die proses het die handsak geval.
Die vrou het alarm gemaak en die sekuriteitswagte by die Oudtshoorn Spar en die Engen-vulstasie het die verdagte vasgetrek.
Volgens Visser het polisiebeamptes wat daar verby gery het, die verdagte in hegtenis geneem.
Na verneem word was vier mans betrokke by die voorval.
Die verdagte se naam kan eers bekend gemaak word sodra hy in die hof verskyn.