TWEE oud-leerders van die Laerskool Van Reede op Oudtshoorn gaan die skool help om fondse vir hul trompoppiespan in te samel wat weer later vanjaar aan die nasionale kanpioenskapsbyeenkoms gaan deelneem.
Hulle is Donelle Fortuin, jong mode-ontwerper met haar eie etiket, ODON, en Steffie le Roux, sanger en aktrise.
Steffie tree vanjaar saam met Les Javan by die Windpomp Restaurant-teater by die KKNK op en het ook reeds as aktrise naam gemaak en rolle in Verraaiers en Stuur groete aan Mannetjies Roux vertolk.
Donelle het al in baie modeontwerp-kompetisies presteer en droom daarvan om eendag haar eie boetiek te hê.
Die fondsinsameling word deur middel van ’n High Tea gedoen.
Dit vind op Saterdag, 4 Maart, om 10:30 in die skoolsaal plaas.
Kaartjies kos R100 per persoon.
Laerskool Van Reede se trompoppies het oor die jare naam gemaak as een van die voorste trompoppiegroepe in die land, en hou reeds verskeie jare lank Oudtshoorn se naam nasionaal en internasionaal hoog!
Gedurende die 2016 nasionale kampioenskap het die groep algeheel agtste in die Elite-groep geëindig.
Die skool se trompoppies is die enigste plattelandse groep wat dit kon vermag.
Die koste vir die skool se trompoppies om aan die nasionale kampioenskap deel te neem, beloop etlike duisende rande.
Kaartjies vir dié besonderse oggendtee is by die skool te koop.
Kontak Carina Fourie by tel 044 272 2845.