
Die pragkwilt wat deur ’n gelukkige trekking gewen kan word. Foto: Schalk le Roux
Deur Liesel le Roux
’N HANDGEMAAKTE kwilt met sowat 140 prentlappies van diere as deel daarvan, wag op ’n eienaar – in ruil vir ’n skamele donasie van R20.
’n Groep diereliefhebbers van Oudtshoorn wil met donasielyste – waarmee dié kwilt gewen kan word – geld insamel vir sterilisasies, kos en medikasie vir Oudtshoorn se diere in nood. Die wenner se naam sal met ’n gelukkige trekking bepaal word.
Dié pragtige enkelbedkwilt is deur Wilma Smit, ’n Oudtshoorniet en lid van die Outeniqua Kwiltersgilde, gemaak as haar bydrae om geld in te samel vir Oudtshoorn se diere in nood.
Die kwilt het sy ontstaan gehad by ’n geleentheid wat Marianne Spies, oud-skoolhoof van Principia Kollege, verlede jaar in Februarie vir haar verjaarsdag gereël het, vertel Smit. Spies het met haar verjaarsdag gevra dat niemand vir haar moet geskenke koop nie, maar dat elkeen moet dink hoe hulle Oudtshoorn se diere in nood kan ondersteun.
Hieruit het onder meer Die Hoorn se weeklikse Dierehoekie ontstaan, en is ’n tuinedag-fondsinsameling verlede jaar gereël waar inwoners verskeie tuine op Oudtshoorn kon besoek.
Smit, ’n opgeleide spraakterapeut, het op haar beurt besluit sy gaan ’n storieboekkwilt maak, wat ouers kan gebruik om ’n kind meer oor diere te leer, stories te vertel en so taalkundige, wiskundige en ander opvoedkundige vaardighede speel-speel aan te leer.
Die eerste hekkie wat sy moes oorkom, was om genoeg prentlappies in die hande te kry. Sy kon onder haar eie duisende prentlappies net ’n handvol met diere op vind. Toe sy egter die kwiltersgilde nader, het mense haar oorval met hul mededeelsaamheid, vertel sy.
En het Smi met die kwilt begin – met prente van plaasdiere, honde, katte, voëls, wilde diere, waterdiere, insekte en ure se toewyding en harde werk!
Oor haar handewerk is Smit nederig. “Dit gaan net oor die diere, nie oor my nie,” sê sy.
• Vir diegene wat dié erfstuk wil wen en so ’n bydrae lewer tot die dorp se diere, is ’n donasielys by Bottega in die Queen’s Hotel-kompleks (Baron van Reedestraat) beskikbaar. Die projek sluit op 9 Maart. Die wenner sal deur ’n gelukkige trekking op 15 Maart aangewys word.