Graad 12-leerder met skêr gesteek

Reacan Pretorius (17).  Foto: Verskaf

Reacan Pretorius (17). Foto: Verskaf

Deur Ilze-Mari Gründling
’N 17-jarige inwoner van Calitzdorp, Reacan Pretorius, het Maandag in die Oudtshoorn Hospitaal beland nadat hy met ’n skêr in die linker-boarm gesteek is.
Die voorval het die middag op die skoolterrein van die Hoërskool Calitzdorp plaasgevind.

Reacan, ’n graad 12-leerder, is na bewering deur ’n graad 9-leerder in die arm gesteek.

Volgens kapt Anna May, stasie­bevelvoerder van Calitzdorp, ondersoek die Polisie ’n klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Sy sê Reacan was op pad weg van die kantoor af toe die ander seun hom genader en na bewering aan die bors gegryp het.

“Die klaer het die verdagte ook aan die bors gegryp en toe gesien die verdagte het ’n skêr in sy ander hand.”

Volgens May is niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Reacan is per ambulans na die Oudts­hoorn Hospitaal geneem en oornag in die hospitaal gehou vir waarneming.

Volgens mnr Chris Swart, hoof van die Hoërskool Calitzdorp, ondersoek die beheerliggaam die voorval.

“Die voorval het buite skoolure plaasgevind. Reacan het in die kantoor ingestap met die wond op sy arm en ons het noodhulp toegepas waarna ons die nooddienste ontbied het.”

Swart sê die graad nege-leerder was nuut in die skool en kom van die Kaap af. Hy het klaarblyklik voorheen gedragsprobleme gehad.

Millicent Merton, woord­voerder van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD), het op navraag van Die Hoorn gesê albei seuns se ouers is dadelik van die voorval in kennis gestel.

Die graad 9-leerder is intussen volgens Merton geskors.

Nadia Ferreira, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse Departement Gesondheid, sê Reacan is Dinsdagoggend uit die Oudtshoorn Hospitaal ontslaan.

Volgens Henriëtta Pretorius, Reacon se suster, moes hy ses steke in sy arm kry. Hy moet nou by die huis herstel.

Sy sê haar broer is ’n goeie akademiese presteerder. “Hy is ’n stil seun, maar is ook baie lief vir toutrek en rugby. Hy is baie aktief en doen goed op skool.”