Klerk se saak na streekhof

Deur Garnett Wicomb
Die saak teen ’n vrou van Oudtshoorn wat van bedrog aangekla word, is Vrydag vir verhoor na die streekhof oorgeplaas.

Grace Malgas (31) wat as finansiële klerk in diens was van die Departement van Vervoer, word daarvan aangekla dat sy na bewering sedert 2013 ’n bedrag van R600 000 van die departement na haar eie rekening oorgeplaas het.

Sy is verlede jaar deur die Valke in hegtenis geneem en het tydens haar borgaansoek aangedui dat sy onskuldig sal pleit.

Landdros Lorraine Samuels het die saak Vrydag vir verhoor in die streekhof tot 2 Maart uitgestel en haar borgtog van R1 000 en borgvoorwaardes verleng.

Volgens haar borgvoorwaardes moet sy vier dae per week by die Oudtshoorn Polisiekantoor aanmeld en nie die dorp verlaat sonder die wete van die ondersoekbeampte nie.