Deur Garnett Wicomb
DIE saak teen ’n dokter wat daarvan aangekla word dat hy twee jong vroulike rekrute seksueel aangerand het, is in die Oudtshoorn Streekhof as voorkeursaak vir twee dae se verhoor tot 11 en 12 April uitgestel.
Die dokter is verbonde aan die Infanterieskool op Oudtshoorn.
Die 35-jarige dokter van die Paarl, wat sedert Februarie verlede jaar in die siekeboeg van die Infanterieskool werk en nog nie gevra is om te pleit nie, het glo by drie geleenthede die twee vroue in sy spreekkamer betas nadat hy die deure gesluit het.
Volgens die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, was daar onsekerheid oor die aantal dae vir die hofverrigtinge op 30 Januarie 2017.
Dit het ook aan die lig gekom dat een van die klaers Vendasprekend is en ’n tolk benodig word.
Streeklanddros Daniel Boks het sy kommer hieroor uitgespreek omdat die saak reeds op 24 Oktober verlede jaar uitgestel is.
Hy het die beskuldigde se borgtog van R5 000 en borgvoorwaardes weer verleng.
Die dokter mag onder andere nie vroulike pasiënte van die Infanterieskool behandel nie en die dorp nie verlaat sonder die kennisname van die ondersoekbeampte nie.
Adv Benito Metembo verskyn in opdrag van Avontuur en Genote vir die beskuldigde.