Uitspraak vandag in saak teen Calitzdorp-vier

Deur Garnett Wicomb
UITSPRAAK word vandag in die Oudtshoorn Streekhof gelewer in die saak teen vier mans van Calitzdorp wat daarvan aangekla word dat hulle ’n restaurant op Groenfontein met klippe verwoes en glo een van die eienaars wou doodmaak.

Die laaste getuie in die saak, Fernando Arries (19), het getuig dat hy die vier beskuldigdes, Morné Nel, Mervin van Wyngaardt, Geraldo Ewerts en Elton van Wyngaardt, op Paassondag 2015 langs die pad gekry en hulle hom gevra het om saam te stap na een van hulle se oom.
“Toe ons by die restaurant kom, het Mervin gesê hy gaan sy geld by Johan du Plooy vra.”
Volgens Arries kon hy nie hoor wat Mervin en Du Plooy praat nie en het hy gesien dat Du Plooy na Mervin slaan.

Hy kon ook nie sien waarmee Du Plooy geslaan het nie.
“Toe Mervin val, het ek gesien die ander drie begin klippe gooi.”
Volgens hom het hy nie gesien dat Mervin enige wapen by hom gehad het nie. Hy het nie verder gekyk wat gebeur het nie en huis toe gestap.

Arries het getuig die vier beskuldigdes was nie kwaad soos wat een van die gaste, Marc de la Rux, getuig het nie.

Die staatsaanklaer, Nadia le Roux, het in haar betoog gesê dat die feite nie so gekompliseerd is nie.
Die vier is in ’n groep na die restaurant en dit is duidelik dat hulle gegaan het om Du Plooy te konfronteer, seer of dood te maak.

Volgens getuienis voor die hof sou hulle gesê het: “Waar is Johan. Ons kom om julle vrek te maak.”
Sy het die hof gevra om die beskuldigdes ten minste aan aanranding om ernstig te beseer asook aan verswarende roof en opsetlike saakbeskadi­ging skuldig te bevind.

Die vier se regshulpprokureur, Eugene Roos, het die hof gevra om hulle vry te spreek omdat die staat nie kon bewys dat hulle die doel gehad het om die misdade te pleeg nie.

“Niks is gesteel nie en Du Plooy het geen bese­rings opgedoen nie,” het Roos betoog.
Volgens hom is Du Plooy ook nie nie die vredeliewende mens soos hy voorgee nie. Hy was die aggressor.
Streeklanddros Daniel Boks het die saak vir uitspraak tot vandag (9 Februarie) uitgestel.