1,4 ton perlemoen op Ladismith gekonfiskeer

Regs: Die 1,4 ton perlemoen wat Dinsdagoggend deur die Ladismith Polisie gekonfiskeer is. Foto verskaf

Bo: Die 1,4 ton perlemoen wat Dinsdagoggend deur die Ladismith Polisie gekonfiskeer is. Foto verskaf

Deur Ilze-Mari Gründling
TWEE mans het gister in die Ladismith Landdroshof verskyn op aanklag van die onwettige besit van 1,4 ton droë perlemoen ter waarde van R6,7 miljoen.

Volgens kapt Malcolm Pojie, woord­­voerder van die Suid-Kaapse Po­lisie, het lede van die sigbare po­lisiëringseenheid van die Ladismith Polisie Dinsdagoggend inligting oor moontlike dwelmhandel ontvang en ’n verdagte Gautengse voertuig omstreeks 03:00 gestop. Die voertuig was op pad na Port Elizabeth.

Die voertuig en 67 bokse onwettige droë perlemoen is gekonfiskeer en twee 35-jarige mans – een van Zimbabwe en die ander ’n Suid-Afrikaner – in hegtenis geneem.

Volgens Pojie is die perle­moen aan inspekteurs van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye oor­handig vir bewaring en ver­nietiging.