Deur Ilze-Mari Gründling
BOETES van ongeveer R6 000 is verlede Donderdag in Ladismith uitgereik tydens ’n padblokkade en bewusmakingsveldtog oor padveiligheid.
Volgens ao Jan Cederas, woordvoerder van die Ladismith Polisie, is ’n padblokkade onder leiding van lt kol Jakobus Marthinus in Suidstraat opgestel en ’n totaal van 139 voertuie is gestop.
Die Ladismith Polisiekantoor, Departement Korrektiewe Dienste, Departement Maatskaplike Dienste, nie-regeringsorganisasies soos Badisa en Kindersorg, die Eden Brandweer asook die Kannaland Munisipaliteit het aan die bewusmakingsveldtog deelgeneem.
“Elke rolspeler het ook inligtingstukke aan motoriste en voetgangers uitgedeel oor hul werksaamhede en waar om hulle te kontak,” sê Cederas.