10 jaar vir verkragting

Deur Garnett Wicomb
’N MAN wat ’n vrou twee keer oor ’n draadhei­ning gegooi en haar gesleep en verkrag het, is Maan­dag in die Oudtshoorn Streekhof aan ver­kragting skuldig bevind en die minimum voor­geskrewe vonnis van tien jaar tronkstraf opgelê.

Die 20-jarige Felixio Martiens van die plaas Uitvlugt naby Calitzdorp het skuldig gepleit en erken dat hy sonder toestemming gemeenskap met die 29-jarige vrou gehad het wat voorheen ’n verhouding met sy pa gehad het.

Die vrou was een van twee vroue wat hom huis toe gehelp het nadat hy langs die pad geslaap het.
Die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, het vir die minimum vonnis van tien jaar gevra omdat geen “wesenlike of dwingende omstandighede” bestaan om van die vooorgeskrewe vonnis af te wyk nie.
Sy het gesê Martiens is goed bekend aan die klaer omdat sy ’n verhouding met sy pa gehad het toe hy 12 jaar oud was. Sy het ook talle beserings opgedoen.

Martiens se regshulpprokureur, Wenzel Botha, het die hof versoek om wel af te wyk van die voorgeskrewe vonnis omdat daar wel wesenlike en dwingende omstandighede bestaan.
Volgens hom was Martiens erg onder die invloed van drank en het hy nie beplan om die vrou te verkrag nie.

“Hy besef dat hy verkeerd gedoen het en voel bitter sleg. Hy is baie jammer,” het Botha gesê.
Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging gesê Martiens het nie ’n ander keuse gehad as om skuldig te pleit nie. Hy het nie opgetree soos iemand wat dronk was nie.

Martiens is tien jaar tronkstraf opgelê en ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapenlisensie te bekom.