Deur Liesel le Roux
ELKE aspek van vanjaar se KKNK gaan daaroor dat dit ’n belewenis is, sê die uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk, Rhodé Snyman. Die motto van vanjaar se fees is “Beleef dit”.
Snyman het verlede Donderdag tydens ’n net-werkaand van die Oudtshoorn Besigheidskamer met sakelui oor vanjaar se 23ste KKNK gesels.
Volgens Snyman verkoop kaartjies tans flink en vergelyk verkope goed met wat dit verlede jaar die tyd was. Sy sê die KKNK trek jaar na jaar mense na Oudtshoorn as gevolg van ’n aantal unieke eienskappe – soos dat dit in die vakansie plaasvind en dikwels die Paasnaweek insluit, ’n fees is vir die hele gesin en boonop op die platteland plaasvind.
Sy het gesê die feesbestuur het vanjaar “agteroor gebuig” om seker te maak die fees is toeganklik vir almal. Gratis vermaak sal beskikbaar wees in Baron van Reedestraat – “die hart van die fees” – waar ook kosstalletjies sal wees.
Die opelug-aandkonserte gaan ook vanjaar uiters bekostigbaar wees. Dié konserte vind vanjaar in die Rivierbuurt plaas met die Rivierbuurtkaartjie wat ook toegang tot die konserte gee. Die Rivierbuurtkaartjie kos R50 per dag, en R250 vir die duur van die fees.
’n Promosie word beoog om die week-kaartjie kortstondig goedkoper te verkoop.
Onder die hoogtepunte by vanjaar se fees is die terugkeer van kunstenaars soos Pieter Dirk Uys / Evita Bezuidenhout en Casper de Vries na ’n lang afwesigheid, die optredes van Karen Zoid en die Gereformeerde Blues Band in die Burgersentrum asook kunstenaars met Oudtshoorn-bande soos Steffie le Roux wat op Oudtshoorn grootgeword het en saam met Les Javan by die Windpomp Restaurantteater optree (Steffie en Les Javan), en Coenie de Villiers – wat deesdae ook ’n huis op Oudtshoorn het – se Karoo Suite met musiek wat hy gekomponeer het en uitgevoer sal word met teks en foto’s deur die bekende skrywer Deon Meyer.