Meld gevalle van wreedheid aan

Deur Liesel le Roux
GEVALLE van wreedheid teenoor diere kan by die polisie aangemeld word, sê kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie.

Visser het gereageer op ’n navraag nadat verskeie gevalle van wreedheid teenoor diere onder Die Hoorn se aandag gebring is. Dit sluit ’n voorval in waar iemand na bewering kookwater oor ’n hond uitgegooi het nadat die hond die bure se hond gedek het.

Visser sê egter indien mense net gehoor het van sulke gevalle en nie self gesien het wat gebeur het nie, is dit beter om dit aan ’n diereorganisasie te rapporteer wat dit kan ondersoek en op hulle beurt ’n saak aanhangig kan maak.

Volgens Lee-Anne van Sittert van Oudtshoorn Volunteers vir Diere, een van die diereorganisasies op Oudtshoorn, kom voorvalle van wreedheid teenoor diere in alle woonbuurte voor “in Calitzdorp, De Rust, Oudtshoorn en op die plase.”

Sy sê daar was byvoorbeeld ’n voorval waar ’n hond tydens die vakansie gevrek het nadat dit na bewering sonder kos by ’n huis in Wesbank gelos is en te swak was om te herstel toe dit gered is. Volgens Die Hoorn se inligting is iemand wel gevra om die hond kos te gee, maar het die persoon nooit opgedaag nie.

Van Sittert sê Oudtshoorn Volunteers vir Diere fokus tans op sterilisasies om die troeteldierbevolking onder beheer te probeer hou. Sy sê daar was in ’n stadium in Desember 54 katjies by haar.
Sy het die volgende wenke gegee vir mense wat troeteldiere wil aanhou:
• Al wat ’n dier vra, is net ’n bietjie kos en ’n droë en ’n veilige plek om te slaap.
• ’n Troeteldier is ’n verantwoordelikheid wat ’n eienaar vir die dier se hele lewe moet aanvaar, nie net as die diertjie klein en oulik is nie. Moenie ouer diere verwaarloos nie.
• Moenie diere aan ’n ketting vasmaak nie.
• Mense verkeer onder die wanindruk dat katte vir hulself kan sorg. Dit is nie waar nie. Daar is nie genoeg muise en voëls vir al die katte om vir hulleself te sorg nie.