42 jaar diens in die SAPD!

OM 42 jaar diens in die polisie te lewer, is nie net die hoogtepunt van sy loopbaan nie, maar beslis iets om op trots te wees.

Lt kol Christopher (Chris) Botes het op 31 Desember 2019 amptelik afgetree.
“Vir eers gaan ek net rustig wees en werk aan die veteraanmotors wat ek restoureer,” vertel Botes oor sy aftreeplanne.

Hy sê met al die sorg en liefde wat dié motors kry, kan hy dit nie oor sy hart kry om hulle te verkoop nie.

Botes het sy opleiding in 1977 voltooi, waarna hy in die Leeu-Gamkadistrik werksaam was.

In 1981 het hy ’n verplasing gekry Oudts­hoorn toe en in 1985 het hy by die Attaqua K9-eenheid (die honde-eenheid) aangesluit, waar hy tot met sy aftrede werksaam was as bevelvoerder.

Hy het diep spore op Oudtshoorn getrap met die rol wat hy oor die jare by die honde-eenheid gespeel het, sê kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie.

Botes is in 1991 tot luitenant bevorder, en het in 1996 die rang van luitenant-kolonel ontvang.

Botes is die pa van een seun en sê hy sien uit daarna om later vanjaar saam met hom bruilof te hou. (Deur Angelique Erasmus)