Briewe

Oudtshoorn se Berlynse muur

Dit is nou maar eenmaal so dat die mens, reeds sedert die skepping, nie aan beperkings blootgestel wil wees nie. Die huidige geslag is seker steeds gefrustreerd oor die beperkings wat deur apartheid veroorsaak is.

Vyf en twintig jaar sedert demokrasie en ’n vrye, “nuwe” Suid-Afrika is daar min, indien enige, vordering gemaak ten opsigte van ’n “beter” Suid-Afrika. Kinders toets en breek huisreëls (indien dit nog bestaan) en skoolreëls. Soos dit vir my lyk, bestaan verkeersreëls lankal nie meer nie en dank­sy die voorbeeld van Zuma geld landswette vir die meeste landsburgers ook nie meer nie.

Om terug te keer na die betonheining wat by die uitgang van Oudtshoorn langs die N12 opgerig is: ek glo dis met goeie bedoelings en teen hoë koste opgerig, en dit is ook reg so. Sedertdien is dit as gevolg van sinnelose betogings vernietig en het dit letterlik “die pad oopgemaak” vir verdere vernietiging.

Nou wag ek vir die eerste geleentheid waartydens ’n dier of mens beseer/gedood sal word as gevolg van die stukkende heining. Wonder wie dan verwyt sal word … en die chaos wat ontketen sal word.

Sterkte vir die herstelproses, maar jammer, dit het reeds te ver gegaan. Ek bly by my standpunt dat die heining tussen die hoof- en die voetpad opgerig moes word. – Steeds bekommerde Pieter

Gaan hulle weer swyg tot die dood?

Ek verwys na die berig in Die Hoorn van 30 Januarie 2020 in verband met ’n petisie oor die bou van laekostehuise. Onderaan is kwessis uit my brief ten opsigte van die vestiging van laekostebehuising aan die westekant van Oudtshoorn wat in 2017 in Die Hoorn verskyn het

Die inligting in die brief is nog net so relevant.

Tot datum, bykans twee jaar later, was daar nog geen reaksie van die Oudtshoorn Munisipaliteit op die stellings wat ek destyds daarin gemaak het nie en kan ons as inwoners aanvaar dit is korrek.

Die ongebreidelde uitbreiding van laekostebehuising plaas ’n steeds groter wordende las op belastingbetalers en die reeds onvoldoende water­bron, terwyl die raadslede steeds ’n houding van “kom ons swyg hulle dood” handhaaf.

Ek daag die raad uit om antwoorde te gee op die stellings en vrae wat in die brief geopper word.

U is verkose lede, en ons as kiesers is geregtig om te weet wat aan die gang is.
(Enkele kwessies uit die vorige brief):
• Kan Oudtshoorn Munisipaliteit asseblief ’n kaart publiseer wat sal aandui waar al hierdie huise gebou gaan word.
• Volgens die berig gaan 16 331 huise in Oudts­hoorn-dorp gebou word.
• Waar gaan die nuwe rioolplaas gebou word om hierdie huise te akkommodeer, aangesien die be­staan­de rioolaanleg reeds oorlaai en disfunksioneel is onder die huidige lading? – GD Haasbroek, Oudtshoorn
(Die munisipaliteit het aangedui dat hulle ’n reaksie op die brief sal stuur wat Die Hoorn volgende week sal plaas. – Redakteur)

Is daar mense by die munisipaliteit?

Op 16 September 2019 rig ek ’n skrywe aan “Die Beampte in beheer, De Rust Munisipaliteit” – Géén antwoord.

Op 19 November 2019 rig ek ’n skrywe aan die munisipale bestuurder, waarby die skrywe van 16 September 2019 aangeheg word en dieselfde dag ook ’n afskrif van 16 September se skrywe aan mnr Tofile (regsbeampte) en mev Simms, ook van die munisipaliteit. Géén antwoorde.

Op 12 Desember 2019 skryf ek weer aan die munisipale bestuurder waarin ek sê dat geeneen van die amptenare, munisipale bestuurder inkluis, eers die ordentlikheid gehad het om ontvangs te erken nie.

Terloops, ek sê in my skrywe dat, net vir “in geval u miskien dood is en ons nie daarvan in kennis gestel is nie”, stuur ons dit weer per e-pos aan die munisipale bestuurder. Géén antwoord.

Net om seker te maak, stuur ek ’n afskrif van die skrywe van 19 November 2019 ook aan raadslede Kersop en Fourie. Géén antwoord.

My vraag is nou: het enigiemand die mense wie se name ek hierbo genoem het gesien sedert 16 September 2019? – Johan Wagener, Oudtshoorn