Moeilikheid kom nie in dun straaltjies nie

Mike, ’n chirurg van Dallas, Texas kom by ons jag in Mosambiek. Hy is ’n baie aangename man en op die oog af ’n tawwe kêrel en ’n ervare jagter wat al ’n paar maal in Afrika kom jag het. Hy is ’n regte Texan – lank, regop met so ’n tradisionele “flat top”-borselkop wat effens grys begin word by die slape, soos dit nou maar gaan.

Afrika mag dalk een kontinent wees, maar dit is nie een plek nie en jag in Afrika is beslis nie oral dieselfde nie! Ons jagkamp was aan die rand van die Marromeu-vloedvlakte, suid van waar die Zambesirivier in die see uitmond. Dit is ’n baie wilde stuk aarde. Pragtig, maar nie jou speelmaatjie nie.

Soos alle goeie dinge kom Mike se safari ook tot ’n einde. Ek is in Pretoria nadat ek ’n paar ander manne so twee dae tevore teruggebring het.
Ek moet terugvlieg kamp toe om vir Mike te gaan haal. Hy moet die volgende dag terug Amerika toe.

Dit is in die middel van die winter en die weer kan soms maar onplesierig raak op die Hoëveld. Ek staan die oggend op en sien die lug is donkerder as gewoonlik, wat beteken die weer is nie wat ek dit graag sou wou hê nie. Die weervoorspelling is allermins goed. Die vriesvlak is sommer baie laag tussen Pretoria en Polokwane, waar ek moet land om deur die doeane te gaan om die land te kan verlaat. Ek stel my vertrek so lank as moontlik uit, hopende dat die weer gaan verbeter, maar vlieg moet ek vlieg. Mike moet môreaand op die vlug Atlanta toe wees!

Nou ja, alles was toe soos voorspel op die kort been Polokwane toe met ys en ligte reën … ’n regte nagmerrievlug. Een van daai waar jy baie bly is om weer veilig op die grond te wees. Die vlug van twee ure Beira toe was nie veel beter nie, met werklik onaangename vliegweer. Een van daardie vlugte waar jy so rondwip in die turbulensie dat jy nie behoorlik op die radio kan praat nie en sukkel om jou instrumente duidelik te sien! Gelukkig is die Aerostar ’n baie sterk vliegtuig. In die daling Beira toe kom ek uiteindelik uit die vrot weer en ná ’n roetinebesoek deur al die formaliteite by Beira-lughawe, is ek haastig op pad kamp toe, want die son begin water trek en ek is ver agter skedule.

Kamp toe is so ’n dertig minute vlug van Beira af. So tien minute uitwaarts is die volgende ernstige uitdaging op my pad – rook. Ek dink die hele Mosambiek word elke jaar afgebrand, sommige dele tot drie keer. Jy kan dit duidelik uit die lug sien. Die rook maak die nadering en landing natuurlik baie moeilik want jy kan letterlik nie die grond sien nie. Gelukkig is die aarde so plat soos ’n pannekoek daar en daar is geen hindernisse soos torings, kragdrade of berge nie.

Beira se lugverkeerbeheer groet my en ek is die laaste stukkie op my eie, sonder enige radiokontak. Ek stop my daling op 500 voet bo die grond (so 160 meter). Dit is laag, maar ek kan nie die grond sien nie – net wit rook bo en onder. Probleem. So nou en dan flits ’n donker kol onder die vliegtuig deur, maar daar is beswaarlik genoeg sigbaarheid om op ’n landingstrook in die bos te kan land.

Oor die tyd het ons ’n redelike standaard-aankomsroete bepaal, wat oor die kamp gaan sodat die mense weet hulle moet “lughawe” toe kom om te kom haal, ’n wye draai en dan stapsgewys laer en laer reguit in op eindnadering.

Die nadering is krities want die aanloopbaan is maar kort en nou. Daar is min ruimte vir foute.

Ek vlieg die hele prosedure op instrumente in die rook en is al baie laag toe die naaste punt van die aanloopbaan skielik voor my sigbaar raak. Ek sit die Aerostar daarop neer en rem maar hard want ek kan nie te ver op die aanloopbaan sien nie! Nou ja, “all’s well that ends well” en sommer gou is ek op pad kamp toe met een van die Land Cruisers wat die manne vir my gelos het by die aanloopbaan.

By die kamp is net die kampperso-neel daar – die kliënte en my beroepsjagters is almal uit. Hulle is na ’n plekkie so 30 kilometer van die kamp af. (Die jagkonsessie is baie groot!) Geen probleem nie. Ek doen vinnig die rondtes, gesels met my kampmanne, neem voorraad op en maak lysies van wat nodig is. Teen daardie tyd brand daar ’n lekker gesellige vuur in die lapa en ek plons myself in ’n kampstoel neer met ’n yskoue 2M-bier in my hand. Ná die klomp uitdagings en ’n dag van erge konsentrasie in die vliegtuig is ek redelik gaar en die koue bier gaan baie goed af. Die eerste een raak nie kante nie.

Toe ek my weer kry, skrik ek wak­ker en dit is pikswart nag. Ek het in die kampstoel aan die slaap geraak.

Dit is 21:00 en niemand is nog terug nie. Dit is nou ’n probleem, veral sonder enige vorm van kommunikasie. Die manne in die kombuis gesels ongehinderd en laggend soos hulle altyd maak en die generator dreun rustig en gerusstellend in die agtergrond … maar waar is my mense en kliënte?

Ek staan nog en dink wat nou, toe ’n klein geel, flikkerende liggie in die sanderige pad afkom, op pad kamp toe. Dit is een van ons spoorsnyers wat saam uit was. Sy bynaam is Renamo. Die double-cab waarmee hulle gery het, het gebreek en die spul is gestrand doer diep in die bos iewers.

Hy het by ’n nabygeleë village ’n fiets gaan leen en die sowat 30 km in die nag kamp toe gery deur die bos. Dit wil gedoen wees – veral met die dunste bandjies denkbaar in die sand, in die donker, vir sowat vier ure!

Dit is nou half tien in die nag. Die klomp moet kamp toe kom, want môreoggend vroeg moet ons uitvlieg.

Die nag se recovery is ’n storie vir volgende keer – want my moeilike dag was toe sowaar nog nie verby nie…