Briewe / Letters

 

Oorweldig deur dié vernietiging in Oudtshoorn

In terme van sindelik – en netheid, laat die woonbuurt waar ek woon, veel te wense oor.

Ongelukkig kan die blaam nie voor die deur van plaaslike bestuur gelê word nie. Plaaslike bestuur voorsien swart­sakke op ’n gereelde grondslag aan huishoudings en die verwydering van vullis vind gereeld plaas. Selfs na amptelike werksure is tydelike werkers besig om die dorp op te knap en dit in ’n aanvaarbare toestand vir die volgen­de dag te laat. Ten spyte hiervan is sommige inwoners daagliks besig om van die woonbuurt ’n volwaardige vul­-lis­hoop te maak. Behalwe dat die on­ge­kontroleerde rommelstrooiery onooglik is, is dit ’n hoë gesondheidsrisiko, veral vir kinders.

Gedurende apartheid het plaas­like bestuur die woongebiede van blan­kes altyd netjies in stand gehou ten kos­te van die lokasie. Na 1994 het ons plaas­like regering ons woonbuurte stel­selma­tig begin opgradeer, en begin om die inwoners se lewensomstandighede te ver­beter deur ’n beter infrastruktuur daar te stel. As gevolg van die historie­se en politieke ongelykheid van die ver­­lede, is dit nie raadsaam om die twee woonbuurte ekonomies en infrastruktureel met mekaar te vergelyk nie. Alhoewel daar ’n bewese agterstand be­- staan wat eers oor ’n baie lang tydperk uitgewis sal word, is daar nie meer politieke hindernisse wat verbied dat mense verantwoordelikheid neem vir waar hul­le bly en leef nie.

Van die opgraderings wat ten doel sou hê om ons woonbuurt te verfraai, het in die slag gebly. Die pallisades rond­om die begraafplaas is besig om stuk-stuk te verdwyn. Daar is die sinlo­se vernietiging van sommige grafte, die misbruik van speelpark-­implimente deur volwassenes en die vernietiging daarvan. Die verwydering van die pla­veisel van die netjiese uitgelegde paadjies. Die plaveisel is of opgetel en ver- ­koop, of dit het hulle weg na sommige inwoners se eiendom gevind. Die om­heining van die golfbaan is feitlik ge­heel en al verwyder. Van die naam­- borde op die pale het weinig oorgebly.

Die volgende vrae het by my opge­kom en ek het duidelik nie ­antwoorde daarvoor nie.
Tot watter mate speel armoede ’n rol in mense se gedrag? Is daar woede in armoede, word hoop en ideale onder sulke hulpelose omstandighede verdring? Is ons gemeenskap te individualisties en bring dit ons gemeenskaplike verantwoordelikheid en ons gemeenskaplike aanspreeklikheid teenoor me­kaar in die gedrang? Is konformering en ­onderwerping aan die negatiewe ­do­minante omgewing ’n gegewe, en is ver­set daarteen die uitsondering op die reël? Het selftrots, selfrespek, ideale en ambisie ’n bestaansreg onder dié droe­wige omstandighede?

Watter praktyke kan ons volg om die vernietigende lewensomstandighede en negatiewe gesindhede, te verander?

Het ons materiële bronne, lewensmid­­dele en finansies nodig om die grondliggende gesindheidsveranderin­ge te weeg te bring? Ons almal is den­kers, met ons eie vooroordele en ons eie ideologiese oortuigings, derhalwe hand­haaf ons ’n verskeidenheid van perspektiewe en gesigspunte oor ge­meenskaplike kwessies. Ek het ­bietjie vasgeval en het verstrengel ­geraak in die waaragtigheid van my omstan­dig­hede en is oorweldig deur die nega­tie­we ingesteldheid van die omgewing.

Ek sal dit waardeer as ­iemand lig op dié kontroversiële en kontensieuse aangeleentheid kan werp, en ons dan as gemeenskap sodoende vorentoe vat.
– DA Piedt, Oudtshoorn

Ons bejaardes is uitgemelk!

Vandag so ’n kouseltjie vir ons raads­lede. Kyk, Transnet het jare gelede hul pensioentrekkers vinnig verwurg deur hul jaar­likse verhogings vas te maak op, ek dink, 2%.

Die staatsdiens gebruik ’n stadige wurgtegniek. Ons jaarlikse verhogings is net 75% van inflasie. Nou kos dit nie ’n reuse intellek om te weet waar mens na so 17 jaar van sulke verho­gings ein­dig nie.

Mens begin in die middelklas, maar eindig in die laer klas. En dit duur nie baie jare nie! Tans steek my snoet da­rem nog bo die broodlyn uit, maar ook maar net! Gelukkig het ek ’n groot neus. Nou kom onse stadsvaders, pas eers die markwaarde van jou eiendom aan en dan slaan hulle jou met verhoog­de tariewe! En dis nie al wat verhoog gaan word nie! Kyk die vark se laaste speen lewer nog nie genoeg melk nie.

Die finansiële krisis het wel onder ’n ander politieke bestel momentum ge­kry, maar waar is ons DA-lede wat toe in die raad was? Het hulle nie die tsoenami sien kom nie of het hulle nie in daardie rigting gekyk nie? En raai wie moet vir die gemors opdok en wie word die hardste geslaan? Middel- en laer klas natuurlik en voeg nou daarby die bejaardes ook! Ene Gert het verlede week in die koerant geskryf dat die raad hulle nie aan senior burgers se skrywes steur nie. En dit juis na aanleiding van die feit dat hulle nie vir die ougatte begroot nie. Ja, Gert, die staat trap ons kele vas terwyl hulle aan die tou trek en onse liewe stadsvaders trek ook nou aan daardie einste tou!

In Amerika is ’n motorplakker wat lui: Today peacock; tomorrow featherduster! Gert, die mense reken stellig ons is môre die verestoffers en wie steur hulle nou aan ’n verestoffer? Ons sal binnekort verplig wees om maar ’n wip in die agterplaas te stel om darem so ’n vleiskossie te kry! Nodeloos om te sê; ons is nou uitgemelk!
– Piet, Oudtshoorn

Accept others; move forward

Once again a selfish attitude surfaces in our town.

On Thursday (1 June 2017) the Direc­tor General of the Department of Statistics revealed that our unemployment rate had had risen to 32,8%.

This includes figures that count active job seekers and those who have gi­ven up looking. Here in our town there are numerous people who are unemployed.

Many do not have the skills required in today’s economy, through no fault of their own. We are well into our third industrial revolution. The skills required are largely in the field of electronics.
The Postal Service deals with a fraction of the earlier volume of letters, we use e-mail and social media, as just one example. This is part of the loss of previous job opportunities.

What do we do to assist the unemployed? The media is constantly encouraging those who face a bleak future to enter the world of the entrepreneur, and become self-employed.

This is not an easy path to take. You need capital, skills and what-have-you to start up. Unfortunately in letters to Die Hoorn we find members of our society continually complaining about those who search daily through our rubbish bags.

Let us stop and consider what it is like to be so desperate that you need to find things of value, possibly even some­thing to eat in the rubbish of others.

What is it like to live in a shack, no mod cons and virtually no possessions, such as a comfortable bed, no place to wash and no cooking facility?

Oudtshoorn citizens complain about the handmade carts which are pulled along our streets. These folk are attemp­ting to make a living by recycling our rubbish for financial gain. I chatted to one entrepreneurial group, two young men and a young woman. They tell me that they are up early each day and if they are lucky they get R20 a day between the three of them.

The solution to the spilled rubbish is simple. We should each have two bags, black for compostable and blue for recyclable.

I would also suggest that we employ at Council cost and as part of a caring community project, folk to clean the open cess-pit that passes for a river, running through the centre of the town!

If we all want to live in South Africa we will need to accept others for what they are.
– William Gould, Oudtshoorn

‘Swyg hulle dood’-beleid

Dit is duidelik dat die probleme in die Oudtshoorn Munisipale Raad eerder toeneem as afneem.
Ons verneem in Die Hoorn van 1 Junie dat daar nie lede van die onderskeie portefeuljekomitees aangewys is nie, en dat die speaker ook nie by magte is om orde in raadsvergaderings te handhaaf nie. Kan dit waar wees?

Watter nut het dit dat daar komitees bestaan, maar nie lede het nie en ook nie fungeer nie?
Waarvoor kry raads­lede dan beta­ling?

Dit raak al hoe duideliker dat Oudts­hoorn se raad vanuit Kaapstad beheer word, en nie deur die raadslede wat deur die Oudtshoorn-kiesers verkies is nie.

Komiteelede kan nie aangewys word voordat goedkeuring nie van Kaapstad verkry is nie.
Daar kan nie orde in raadsvergade­rings afgedwing word nie, want wat sal Kaapstad sê.
Navrae deur kiesers kan nie beantwoord word nie, want Kaapstad moet eers geraadpleeg word.
Kiesers in Oudtshoorn moet kennis neem van die toedrag van sake wanneer daar weer verkiesings gehou word.

Soos gebruiklik verwag ek nie enige reaksie van die kant van die raad nie.
Die “kom ons swyg hulle dood”- beleid geld mos nog steeds
– D Haasbroek, Oudtshoorn

Ope brief aan die stadsraad

In die lig van die finansiële verknor­sing waarin ons dorp hom bevind en die groot behoefte aan infrastruktuur (veral water, rioolsuiwering en strate) wat dringende aandag geniet, kan ek nie sien hoe groot geld bewillig kan word vir die oprig van sportfasiliteite wat net ’n klein deel van die breë gemeenskap sal bevoordeel nie.

Al sou die fondse vanaf die provinsiale kas kom, behoort alle besluite met wysheid gepriotiseer te word.
Die verhoging van die munisipale tariewe is ’n groot bron van bekommernis vir baie pensioentrekkers aangesien staatspensioene met minder as 6% gestyg het.

Ons is dus heelwat armer as verlede jaar hierdie tyd en sal veranderinge moet oorweeg in verband met onder andere versekering en mediese fondse as die raad nie bereid gaan wees om ’n deel van hul reuse salarisse beskikbaar te stel om sekere tekorte aan te vul nie.

So ’n stap sal ongetwyfeld ’n groot positiewe rimpeleffek hê dwarsdeur ons land en ook buite ons grense.
Ons bid dat ons leiers wysheid sal ontvang.
– Belastingbetaler (R700 per maand), Oudtshoorn

Ekonomie ly onder sluiting van skole

’n Dag nadat ons die nuus gekry het dat Suid-Afrika in ’n resessie is, besluit die onderwysers in Oudtshoorn om ’n dag af te vat omdat daar ’n storm in die skiereiland dreig 450 km hiervandaan.
Besef hulle watter skade hulle aan die plaaslike ekonomie aanrig? Honderde mense moet vandag tuis bly omdat hulle geen alternatiewe toesig vir hulle kinders het nie.

Dit is ’n skande en toon net weer waarom ons onderwys in so ’n krisis verkeer.
– Chris Bredekamp, Oudtshoorn