
Eric Terblanche. Foto verskaf
Deur Ilze-Mari Gründling
’N BEKENDE inwoner, skoolhoof en rolbalspeler van Oudtshoorn, Eric Terblanche, is Maandag oorlede na ’n stryd teen kanker – kort nadat hy op 27 Mei 77 jaar oud geword het. “Hy was die mees amazing persoon ooit. Hy was altyd baie regverdig en ’n absolute gentleman.” sê Ciska Terblanche, Eric se dogter.
Sy vertel dat hy ’n baie liefdevolle persoon was. “Dit was sy motto in die lewe – hy het geglo dat as jy liefde in jou hart het, alles in plek sal val. Hy het daarin geglo om almal gelyk te behandel, maak nie saak waar jy vandaan kom nie. Ek kan van kleins af onthou dat die belangrikste ding vir hom liefde was.”
’n Jarelange vriend van Terblanche, Jos de Villiers, sê Terblanche het as skoolhoof die respek van sy personeel en leerlinge geniet.
“Hy was ’n beginselvaste persoon op wie se woord mens altyd kon staatmaak. Saam daarmee het hy ’n fyn humorsin gehad, was nederig en het homself nooit op die voorgrond gedring nie. Hy het egter nie tyd gehad vir laksheid of afskeepwerk nie”
Terblanche was skoolhoof van die Hoër Handelskool vanaf 1984 tot 1993 asook die eerste skoolhoof van Langenhoven Gimnasium, vanaf 1993 tot 2000.
Hy was ook ’n kranige rolbalspeler en het vanaf 2004 tot 2013 as tesourier op die Oudtshoorn Rolbalklub se bestuur gedien.
Hy word oorleef deur sy vrou, Willa, en drie kinders, Ciska, Eric-Louw en Ewan. ’n Roudiens vir Terblanche word Maandag om 11:00 by die NG Kerk Park gehou.