Blokman lê die tuig neer na 50 jaar

Thys Goliath. Foto: Garnett Wicomb

THYS Goliath (65), bekende blokman van De Lange Slagtery in Uniestraat Oudtshoorn, het op 6 Februarie vanjaar na 50 jaar in die bedryf die tuig neergelê.

Goliath sê hy het as 15-jarige by die destydse Rademeyer Slaghuis in Voortrekkerweg begin werk.

Hy was bekend en gewild onder baie mense wat hom leer ken het as ’n blokman wat sy klante se voorkeure gou leer ken het en altyd die beste vir hulle probeer doen het.

Goliath vertel hy moes in ’n stadium ophou skoolgaan om sy ouers te kon help met die huishouding.

Na ’n paar jaar het hy ’n werk gekry by ’n slaghuis in Hoogstraat, langs die huidige Baron’s Palace, wat aan Massie Ungerer behoort het.

Hy het daarna ook vir baie jare en onder ver­skeie eienaars by ’n slaghuis in Voortrekkerweg gewerk en die laaste sewe jaar as blokman by De Lange Slagtery.

Volgens Goliath het hy vroeg alles geleer wat in ’n slaghuis gedoen moet word, soos die ontbening van vleis, die opsaag van karkasse en die maak van wors, gemaalde vleis en ander koue vleise.

Goliath sê die feit dat hy afgetree het, beteken egter nie dat hy nou heeltemal gaan stilsit nie.

“Ek beskik oor die nodige toerusting vir die opsaag van enige slaggoed vir mense wat dit nie self kan doen nie,” sê Goliath. (Deur Garnett Wicomb)

1 Comment on "Blokman lê die tuig neer na 50 jaar"

  1. Sydney Opperman | 28/02/2021 at 19:41 |

    Pragtige verslag van iemand wat dit wat hy gedoen het so proffesioneel gedoen het. Mooi loop vorentoe

Comments are closed.