Polisie lê beslag op 185 liter drank

Van die drank wat sonder ’n dranklisensie in Uniondale verkoop is. Foto verskaf

TWEE Dysselsdorpers is oor die naweek in Uniondale vasgetrek nadat die polisie inligting ontvang het dat drank in dié dorpie onwettig aan die publiek verkoop word.

Lede van die polisie se misdaadbestrydingspan in die Eden Kluster het Vrydag op 185 liter drank in Uniondale beslag gelê, waarna twee verdagtes van 18 jaar oud en 35 jaar oud in hegtenis geneem is.

Volgens sers Chris Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, het ’n voorlopige polisie-ondersoek aangedui dat die twee verdagtes van Dysselsdorp is en sonder ’n dranklisensie drank verkoop.

Die optrede in Uniondale was een van verskeie die naweek in die Suid-Kaap.

Tydens ander optredes is buite Sedgefield en op George op Mandrax-tablette beslag gelê en twee mense in hegtenis geneem is vir handel in dwelms.

Die waarnemende bevelvoer­der van die Eden Kluster, brig Belinda Pather, sê die polisie is vasberade om dwelms van die strate te verwyder en dat soortgelyke optredes weer sal plaasvind. (Deur Liesel le Roux)