Vakbond ontevrede oor toestand waarin lede werk

DIE Suid-Afrikaanse Munisipale Werkers-vakbond (SAMWU) se Tuinroete-Karoo-tak het vandeesweek teruggeslaan teen die Oudtshoorn Mu­- nisipaliteit nadat laasgenoemde volgens die vakbond ’n verkeerde indruk oor “stakende” wer­kers in die media geskep het.

Luidens ’n verklaring van Jackson Bozo, waar­nemende streeksekretaris van SAMWU, het munisipale vullisverwyderings- en ander personeel nie gestaak nie, maar bloot vir die munisipale be­stuur gewag om hulle toe te spreek oor griewe ra­kende persoonlike beskermende toerusting (PBT).

Tydelike werkers moes verlede Woensdag (17 Februarie) in die Groter Oudts­hoorn ingespan word om te help met die verwydering van huis­houdelike vullis nadat munisipale vullis­verwy­de­ringspersoneel en algemene werkers die vorige dag, Dinsdag, 16 Februarie, begin staak het, het die munisipaliteit toe gesê.

Volgens Bozo het dit onder SAMWU se aandag gekom dat die munisipale bestuur nie hul perso-neel wil te woord staan as hulle wil praat en hulle wil inlig oor uitstaande veiligheidsmaatreëls nie.

“Die bestuur het besluit om die gemeenskap van die Groter Oudtshoorn te mislei deur te sê dat werkers staak terwyl hulle weet dat die werkers nie staak nie, maar wag dat hulle (die munisipaliteit) met hulle kom praat, en beweer dat hulle hul griewe aanspreek. Die groot vraag wat gevra moet word, is: Hoe spreek u die grief aan sonder om na die gegriefde werkers te gaan en dit saam met hulle aan te spreek terwyl u sê dat u besig is om dit aan te spreek?” het Bozo gesê.

Volgens Bozo doen hulle steeds ’n beroep op die bestuur om te kom kyk na die werkers se situasie, waar alle werknemers nie eenvoudige beskermen­de klere het nie. “Al jare werk sommige van hulle met hul eie klere, en sedert Maart 2020 het sommige net een oorpak en ’n paar stewels gekry. Daardie klere is lank gelede, al voor die einde van 2020, geskeur en is tot op hede nog nooit vervang nie,” het hy gesê.

Bozo sê vullisverwyderingspersoneel is sedert die aanvang van die Covid-pandemie verlede jaar as “noodsaaklike dienste” geklassifiseer en moes regdeur werk. Volgens hom het ’n besoek deur ’n inspekteur van die departement van arbeid op 18 Februarie en sy bevindinge, werkers se klagtes oor hul veiligheid en gesondheid ondersteun. Die bevindinge handel onder meer oor risikobepaling, algemene veiligheidsregulasies, fasiliteit-regula­sies en regulasies rondom gevaarlike biologiese middels.

“As SAMWU wil ons dit onder die gemeenskap se aandag bring dat werkers nie staak nie, maar hulle vra net die bestuur om werkstoerusting aan hulle te voorsien,” het Bozo gesê.

Die munisipaliteit is genader vir insette op SAMWU se aantygings, maar teen druktyd is geen kommentaar ontvang nie. (Deur Stefan Skapie Goosen)