Bo wys Dys Grundling ’n gedeelte van die wingerdstokke wat reeds verwyder is. Onder wys hy waar hulle wingerdstokke net bokant die grond afgesny het met die hoop dat die stompies weer sal uitloop.

Deur Schalk le Roux
OP die plaas Sandkoppies suidwes van Oudtshoorn is reeds 4 ha wingerdstokke uitgehaal weens die droogte, sê Dys Grundling, wynmaker van Grundheim wat op Sandkoppies geleë is.
“Van die wingerdstokke was al baie oud en ander taamlik onlangs geplant. As dit nie so duur was nie, sou ons al meer wingerdstokke uitgehaal het.
“Ons het altesame nog sowat 20 ha onder wingerd, maar die meeste daarvan sal dit nie oorleef nie tensy dit goed begin reën en omstandighede dramaties verbeter. Indien ons volgende jaar enige oes het, sal dit baie klein wees,” sê hy.
Hy vertel dat Sandkoppies vanjaar net ’n vyfde van sy normale druiwe-oes gelewer het.
“Ons moes weens die droogte die druiwe te vroeg pluk om die wingerdstokke te red.
“Die druiwe was gevolglik nie geskik vir wynmaak nie, en moes vir stookdoeleindes gebruik word.”
Volgens Grundling sal hy in die toe-koms eerder meer lusern plant aangesien die langtermynskade nie so groot is as met druiwe nie. Dit is ook nie so koste- en arbeidsintensief soos druiwe nie.
“Nadat die droogte verby is, sal dit iemand met die nodige reserwes vier tot vyf jaar neem om sy wingerde te herstel .
“As die droogte gebreek is en die besproeiingsdamme het weer genoeg water, sal ek dit oorweeg om stelselmatig weer wingerde aan te plant in die plek van dié wat uitgehaal is,” sê hy.
• Intussen het Grundling nuwe projekte aangepak, soos die maak van craft gin. “Ek is dankbaar om te kan sê dat dit goed gaan met hierdie projek. Ons koop neutrale kolomspiritualieë wat ons verder stook vir die vervaardiging van ons gin.”
Grundheim maak ook reeds ’n appel- en ’n peerschnaps en het nog ander projekte in die pyplyn wat nie afhanklik is van hul druiwe-oes nie, sê Grundling.