Deur Dennis van der Merwe
Meganisasie of masjinerie-beplanning is een van die belangrikste elemente in enige boerdery, konstruksie- of grondverskuiwingsonderneming.
Die koste van masjiene in Suid-Afrika is onderhewig aan wisselkoersveranderinge aangesien min masjiene plaaslik vervaardig word. Koste word verder verhoog deur rente op voorraad wat vooruit aangekoop moet word deur invoerders omdat geen fabriek in die buiteland produkte vervaardig sonder ’n vaste bestelling nie – maw invoerders moet noukeurig beplan om in die plaaslike mark se behoeftes te kan voorsien.
Seisoene, droogtes, behoefteveranderings en nuwe giere maak dit bykans onmoontlik vir ’n verskaffer om ’n goeie balans te handhaaf tussen die behoefte by klante en die soorte masjiene wat ingevoer moet word. (Baie invoerders vereis deposito’s voor aankoop/invoer en daar is die koste van rente omdat masjiene ingevoer word deur handelaars sodat kopers dit tydig en binne behoefte kan verkry wanneer hulle die masjiene benodig).
Wanneer? Niemand behalwe die koper sal weet wanneer die regte tyd is om masjiene te vervang nie. Hy is immers in beheer van sy behoeftes, tensy daar makro invloede is waaroor hy geen beheer het nie en die hektare skielik te veel word vir die kW tot sy beskikking om die werk effektief en produktief afgehandel te kry.
Daar is ook ander faktore soos koste van eienaarskap bv dienskoste, onderdele en herstelkoste wat op masjiene in gebruik in berekening gebring moet word. Wanneer ’n masjien se markwaarde volgens jaarmodel, ure en toestand bepaal word, beteken dit nie dat die waarde met R20 000 sal styg as jy byvoorbeeld R20 000 op herstel van die masjien spandeer nie. Die markwaarde is redelik konstant en gebaseer op vraag en aanbod. Dit is raadsaam om elke jaar masjiene te laat evalueer en markwaardebepalings te laat doen. Wanneer markwaarde bepaal is, kan ’n besluit oor vervanging makliker bestuur word voordat op toerusting oorspandeer word.
Die tipe, grootte en omvang van ’n onderneming en die ure gebruik per jaar, bepaal ook wanneer masjiene vervang word en waarmee vervang word. Dieselfde reëls geld vir landbou, konstruksie, mynbou en grondverskuiwingsondernemings.
Daar is ’n paar berekeninge wat help bepaal of masjiene vervang moet word. Die belangrikste is dat jaarlikse onderhoudskoste tot op 5 000 uur nie meer as 15% van die aanvanklike aankoopprys van die masjien oorskry, of die totale onderhoudskoste tot op 5 000 uur meer as 60% van die oorspronklike aankoopprys is nie. Die berekening is gewoonlik die vinnigste om aan te dui of die tyd reg is om te vervang of nie.
• Ons kyk ’n volgende keer na die Wat? Om te bepaal met watter masjien ’n produk vervang moet word.