
Die spieëls wat mense voor hul gesigte moes hou in die produksie Wentel, was baie gewild by vanjaar se KKNK. Foto verskaf
VANJAAR se 23ste KKNK het feesgangers die geleentheid gebied om nie net toeskouers van die fees te wees nie, maar self betrokke te raak en ook kunstenaars en resensente te word.
Boonop het talle kinders vanjaar “teatergangers” geword.
Dit blyk uit ’n persverklaring wat die KKNK uitgereik het.
Volgens Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van die fees wat op 15 April ten einde geloop het, is vanjaar se feesprogram deur ’n hele aantal unieke belewenisse gekenmerk. By die Uitkampteater, wat dubbeld soveel kaartjies as verlede jaar verkoop het, is die Nederlandse ervarings met spieëls, Diep en Wentel, flink bygewoon. Die uitbreiding van die Uitkampteaterprojek na Arbeidsgenot om ook kinderteater in te sluit, het van menige jong feesgangers teatergangers gemaak.
Baron van Reedestraat se straatteaterprogram, het aan feesgangers die geleentheid gegee om self ook kunstenaars te word en groot gehore is hiervoor getrek. Ook die klipverfprojek in dié straat het dwarsdeur die fees geesdriftige deelname van feesgangers ontvang.
Snyman sê ’n projek is ook geloods om nuwe teater-resensente te ontwikkel. “Kritiek is daarop gemik om kunsjoernalistiek in Suid-Afrika te bevorder en te ondersteun. Die doel is om aan individue met ’n belangstelling in kunsjoernalistiek ’n geleentheid te bied om vaardighede in die skryf van analitiese en indiepte-resensies te ontwikkel,” sê sy.
Hugo Theart, kreatiewe hoof van die KKNK, sê die inhoud van die feesprogram vanjaar was van hoogstaande gehalte. “Dit was wonderlik om die magdom jong talent te beleef en hul kreatiwiteit en entoesiasme was ’n inspirasie. Wat ’n vreugde om Suid-Afrikaanse kuns en kultuur in die Klein Karoo te vier,” sê hy.
Behalwe vir die teater- en musiekproduksies by die KKNK, was daar volgens Theart baie ander “juwele” – soos straatteater van regoor die wêreld in Baron van Reedestraat, Danie Marais en Haidee Muller se ATKV-Kampvuuraande, Uitkampteater se uitgebreide en uitstaande aanbiedinge, Speelbos – die nuwe kinderarea by Arbeidsgenot – en ook die oorhandigingseremonie van die Vryheid van die Dorp aan Evita Bezuidenhout.
“Daniel Hugo se keurige hand en vaardigheid met die boekeprogram was ’n hoogtepunt en dit was ’n voorreg om tydens die week van die fees politici, digters, skrywers, akteurs, regisseurs, tegnici, kunstenaars en musikante in die Klein Karoo byeen te hê – nie net om gehore te vermaak nie – maar om te debatteer, argumenteer en sodoende konstruktief en deur middel van die kunste ons land en wêreld se kwessies te takel.”.
Snyman het al die KKNK se borge, vennote en die feesgangers bedank. “Ons sien daarna uit om volgende jaar van Donderdag, 29 Maart, tot Woensdag, 4 April 2018, die feestelikheid op Oudtshoorn voort te sit,” het sy gesê.
• Die verkope van teaterkaartjies by vanjaar se fees was ses persent hoër as in 2016.