
Roger Young in sy kunsgalery in Kruisrivier met die vier trofees wat hy op versoek van wyle Hennie Potgieter ontwerp het. Van links is die meesterstrofee vir senior deelnemers, die Manie Potgieter-trofee vir die 20 km-padwedloop, die Margaret Potgieter-trofee vir die 43 km-bergfietsren en die Hennie Potgieter- trofee vir die 60 km-bergfietsren. Foto: Higgo Jacobs
Deur Higgo Jacobs
DIE DEELNEMERS aan vanjaar se Redstone Hills Uitdaagbergfietsrenne en -veldwedlope wat op Vrydag en Saterdag, 12 en 13 Mei, die elfde keer op die plaas Buffelskloof aangebied word, gaan vanjaar om baie besonderse trofees meeding.
Roger Young, kunstenaar van Kruisrivier, het vier trofees spesiaal vir die byeenkoms ontwerp op versoek van Hennie Potgieter voordat hy verlede jaar oorlede is.
Dié trofees maak die jaarlikse sportgeleentheid, in een van die mooiste dele van die Klein Karoo, nog meer spesiaal.
Die trofees staan bekend as:
• Die Hennie Potgieter-trofee vir die 60 km-bergfietsren. Dit beeld ’n koningvisvanger (kingfisher) uit;
• Die Margaret Potgieter-trofee vir die wenner van die 43 km. Dit beeld ’n skilpad, kenmerkend van die omgewing, uit;
• Die Manie Potgieter-trofee vir die 20 km-padwedloop wat ’n jakkals wat opkyk na die sterre uitbeeld; en
• ’n Meesterstrofee wat proteas teen die Swartberge simboliseer en vir senior deelnemers is.
Die byeenkoms is ook bekend vir die gesellige samesyn van deelnemers en besoekers.
Ná Vrydagaand se nagloop is daar ’n potjiekos-aandete met lekker musiek vir almal, ook vir diegene wat net graag lekker naweek wil kom hou.
Saterdag is daar ’n plaasbasaar met onder meer ’n vleistafel en tafels waar lekkernye soos roosterkoek, pannekoek, braaivleis en handgemaakte produkte te koop aangebied sal word.
Die Redstone Hills Trust het sedert 2016 verskeie gemeenskapprojekte ondersteun, wat insluit:
• Die Kidstop-program op Calitzdorp wat daarop gemik is om straatkinders te rehabiliteer en terug te plaas in skole;
• Die Skype-projek wat deur die NG Kerk Calitzdorp bestuur word en daarop gemik is om 50 leerders van die dorp tot modelleerders te begelei;
• Die Vrydagkombuis op Calitzdorp (inisiatief van die NG Kerk) wat elke Vrydag ’n maaltyd aan sowat 50 behoeftige gesinne verskaf;
• Die Skaakprojek van die Hoërskool Calitzdorp om leerders intellektueel te stimuleer; en
• Die Kruisrivier Kunswerkprojek onder toesig van die Calitzdorp Toerismeburo wat werksgeleenthede vir die vroue van Kruisrivier help skep en hulle help om hul produkte plaaslik te bemark.
Volgens die trustees, Chris Ball, Jac Bekker en Willemien Fourie, is sowat R118000 verlede jaar aan gemeenskapsontwikkeling beskikbaar gestel.
• Nog ’n berig oor al die sportitems tydens die jaarlikse Red Stone Hills-byeenkoms op bl 12.