Fees wat lig na ander dorpe en stede stuur

Poem Mooney. Foto: Liesel le Roux

Poem Mooney gesels oor sy betrokkenheid by die KKNK oor die jare.
Liesel le Roux en Christine Schoeman het by hom gaan kuier.

HY is dankbaar vir die geleenthede wat die KKNK na Oudtshoorn en sy mense gebring het, sê Poem Mooney, Oudtshoorn se bekende storieverteller en ’n Khoisan-hoofman. Hy is vanjaar saam met ander storievertellers te sien by die Uitkampteater met watermeid-stories – volkstories oor die Karoo se meermin, die waterslang en die waterfamilies.

Mooney het sommer gou as storieverteller by die KKNK betrokke geraak as gevolg van sy betrokkenheid by die radiostasie Suid-Kaap Stereo wat in 1996 deur Paul Eilers op die been gebring is.

“Ek onthou die eerste stories wat ons vertel het by die afdak onder die Burgersentrum – die stoele was altyd daar uitgepak vir Stoepstories. Saam met my was daar ook André Boezak, Tom Johnson, Pieter Luiters, en baie ander.

“Later jare het mense soos Tolla van der Merwe en verskillende borge dié ding begin ondersteun. Dinge het momentum begin kry.

“ ’n Hoogtepunt was altyd Andries Krogman wat ’n pot voorberei het. Hy kon so lekker vertel wat hy voorberei en die inhoud daarvan. Aan die einde kon hulle wat kom luister het, van die pot eet.’’
Mooney voel sterk oor dit wat die KKNK vir Oudtshoorn oor die jare beteken het en dat inwo­ners dit moet besef en koester.

“Die fees het die dorp soos ’n golf getref,” sê hy. “Dit het aangewas en naderhand was almal in die dorp in eengesindheid: hulle het gesien hier begin ’n nuwe ding wat voete en kunstenaars na die dorp bring.

Mense wat jy altyd net op die televisie gesien of slegs van gehoor het, kon jy nou van aangesig tot aangesig sien.

“Daar was ’n platform vir musiek wat Bridgton toe geneem is. Daar was die Coke-verhoog waarnatoe mense in groot getalle gegaan het. “Daar was die Voorbrandfeeste. Ons het aan ’n hele paar deelgeneem.”

Daar was ook geleenthede vir inwoners om te skep. Sy swaer, Jan van Wyk, het ’n drama geskryf waarvoor hy rieldansers uit Vryburg na die fees toe gebring het, lank voordat die rieldans en die groot rieldanskompetisies so be­kend geword het.

Daar was die drama, Die Eiland, wat Mooney en wyle Hans Oosthuizen saam geskryf het om ’n ander blik op Robbeneiland te gee en wat uiteindelik toekennings gewen het.

Maar daar is en was ook “die klakouse en bitter­bekke wat oor alles, en ook die fees, ontevrede is.”

“Ons wat betrokke geraak het by die fees, het party dae teen die grein van die hout gegaan. Ek wou nie deel wees van die doemprofete en klagtemakers nie, want ek het gevoel hier is ’n ding wat kon werk vir almal van ons.

“Van my kant af het ek gevoel ek sal in die ding inbeweeg en probeer om ’n verandering te bring, al is dit op ’n klein skaal.

“Dit was vir my ’n interessante oefenloop om die kunste na die mense toe te bring, want, ont­hou, nie almal van ons is teatergereed nie. Ons was net gewoond aan radioteater. En hier kom die kunstefees na Oudtshoorn en hy bring die goed dat jy dit kon sien afspeel op die verhoog.

“Daar was baie goeie goed wat die KKNK in dié verband gedoen het, soos toe hulle gratis kaartjies uitgegee het aan mense; met plaasmense wat selfs ingery is na die fees om na die vertonings te kyk en blootgestel is aan die teater en kunstefees.”

Vir hom is die KKNK die fees wat ’n lig aange­steek het, op baie vlakke.

“Dié fees uit die Klein Karoo het uiteindelik die lig aangesteek vir ander feeste in die land, die lig na ander dorpe gestuur. Niemand kan dit van ons wegneem nie. Ons kon ook by van hierdie feeste soos die Gariepfees en Aardklop gaan optree.

“Ek het besef: die lig wat hulle opsteek by die KKNK in Oudtshoorn het baie mense se lewens verryk en sakemense gestimuleer, want mense het begin beweeg van die een fees na die ander fees.

Die KKNK het ook ’n eie radiostasie hierheen gebring. “Dit was die eerste kennismaking van inwoners met ’n radio op jou voorstoep. Ek het ’n vaste program Donderdagoggende op die radio gehad met my stories – Onder die sering. Be­kendes betrokke by die radiostasie, Pieter Fourie, Paul Eilers, Marina Eilers, Gerhard Geetsema en ander, was almal mense wat na Oudtshoorn toe gekom het vir die fees en hulle hier gevestig en deel geword het van die gemeenskap. Die mense het opgekyk na hulle.

“Daar is geleenthede gegee vir skole om restaurante te bedryf, asook vir kerke soos die Toekoms­rus United Congregational Church se bekende roosterkoekstalletjie.

“Die Khoi-San organisasie kon so van die derde fees af by die rivier ’n riettentjie op die oewer opslaan en bewusmaking doen oor die Khoi en San en hul geskiedenis.

“In ’n stadium het ons as deel van die fees ook die Garobfees op die rivieroewer gehad.

“Die KKNK het tot ’n klomp ander goed gelei – die gastehuise het ’n groot hupstoot gekry deurdat toe­riste nou tot ’n week lank in die Suid-Kaap bly.

“Ons moet kyk na die bates wat ons het. Daardie bates moet ons vertroetel en kyk hoe ons dit verder kan uitbrei. Kyk, ons as generasie gaan nie vir ewig leef nie en met die KKNK kan ons jongmense stimuleer en motiveer – mense soos Marlo Minnaar. As Oudtshoorniet voel jy trots, jy wil na hom gaan kyk, hy is mos ons Oudtshoorn-talent.”

Mooney sê hy is ook dankbaar vir Absa en die KKNK se inisiatief met permanente kunswerke wat op die dorp bly; spesifiek ook vir die sonhorlosie voor die Burgersentrum met een van sy gedigte.

“Ek wil hê dié kunswerke moet gebruik word, en het al gedink mens kan byvoorbeeld jong mense kry om gereelde voorlesings daar te doen.”

• Kaartjies vir die Uitkampteater (daagliks van 10:00 – 12:00 en 15:00 – 19:00) kos net R30 en is by die Uitkampteater self beskikbaar.