Van onverdraagsaamheid na lankmoedigheid

Dr David Piedt in gesprek met Die Hoorn. Foto: Liesel le Roux

David Piedt (79), oud-onderwysman en oud-voorsitter van die KKNK- direksie, het met Liesel le Roux gesels oor die invloed van die KKNK op sy lewe – nadat hy toegelaat het dat sy liefde vir Afrikaans sy woede en haat en ongeduld van voor 1994 verander het na lankmoedigheid en geduld.

DIT was nie die kunste wat hom aanvanklik getrek het nie. Dit was omdat die fees wat in 1994 vir Oudtshoorn beoog is, ’n Afrikaanse fees sou wees dat hy besluit het om dit te steun en later meer daarby betrokke te raak, sê David Piedt (79).

Hy sê dit is belangrik dat mense moet besef watter tyd in die land se geskiedenis dit was toe die gedagte vir ’n Afrikaanse kunstefees by Nic Barrow en Andrew Marais ontstaan het.

“Toe die idee van ’n Afrikaanse kuns­tefees op Oudtshoorn in 1994 geopper is, het ons net uit apartheid gekom. Al jou woede was nog in jou, al jou teenkanting, al jou haat.

“Tot in daardie stadium van my lewe het ek enige ding gedoen om die apart­heidstelsel te ondermyn, om dit te ­dwarsboom en om dit nie tot uitvoer te laat kom nie. Ons was nie in die proses van regering ingesluit nie en daarom het ons alles verwerp. My hele lewe lank het ek net gefokus om hierdie ding nie te maak werk nie.

“Maar dit is nie goed om jou lewe lank net destruktief te wees nie. Jou lewe moet mos vir jou sin maak op ’n positiewe manier, en nie net omdat jy reaksionêr op iets reageer nie.

“Toe is dit 1994 en hier is die nie-rassige, nie-seksistiese, unitêre nuwe staat wat ek in die vooruitsig stel en wat beding is.

“En toe kom die kunstefees en dwing my tot selfondersoek; roep my tot orde deur Afrikaans.

“In daardie stadium was die kunste vir my iets daar ver. In my lewe was daar nie plek vir die kunste nie, want die kunste was vir die gegoede mense, die intellektueles, die akademici. Tot in daardie stadium was dit wat belangrik was vir my food and shelter.

“Maar hier kom die fees met sy sentrale punt: ons gaan die kunste hê, maar ons gaan dit deur Afrikaans doen.

“Ek het anders begin dink oor die taal wat ek ook eens gesien het as die taal van die verdrukker. Toe ons vry raak, moes ek daardie benaderingswyse stop. Dit was nie meer nodig nie.

“Hoe kan jy ’n taal blameer vir die optrede van sy mense? ’n Taal is in diens van diegene wat dit praat.

Maar ek was geïntimideer deur ’n dampkring en ’n tradisionele verloop van politieke omstandighede. As ek iets anders sou doen, is ek onder verdenking.

“Ek moes met myself gaan sit en deur daai katarsis werk: Aan wie behoort Afrikaans? Afrikaans behoort aan die mense wat dit praat.

“Ek het nie ’n ander taal nie. Ek het Afrikaans leer ken by my ma. Afrikaans is deel van my menswees, dis deel van my bestaan.

“En Afrikaans is deel van ons kul­tuur­goedere – ek is Westers en ek is in Afrika.

“Die woede wat ek gehad is, is in 1994 in sy spore gestop. Ek was verplig om ’n alternatiewe benadering te kry indien ek nou enigiets sou wou be­te­ken vir enige gemeenskap waarin ek bly.

“As ek op enige manier nog ’n bydrae wou maak in die openbare lewe en informeel, moes ek kyk na my werks­wyse, my optrede, my gesindheid, na my interaksie met mense, en as ek dit nie regkry nie, sou ek van die toneel moet verdwyn.

“Toe dink ek: Ek sal later by die kuns­te uitkom, maar hierdie taal – daar is oor die kleurgrens heen mense wat dié taal deel. Dit sal die gemene deler raak en hierdie mense wat almal Afri­kaans praat, uiteindelik weer bymekaar bring. Ons deel boonop ook ’n Westerse lewenswyse en die protestantisme. Al wat verskil in hierdie groep is die kleur van hul vel.”

Piedt sê as gevolg van hierdie visie het hy baie intens betrokke geraak by die kunstefees.

“Ek het nie betrokke geraak omdat ek geweet het waarheen dit sou lei nie. Dit was maar trial en error.

“En saam met die betrokkenheid het ’n liefde gekom vir die skryfkuns, die poësie, en die kunste.

Sy betrokkenheid by die fees het egter groot druk op hom geplaas, vertel Piedt. “Dit het verskriklike druk op my geplaas, want daar is gemeen ek moet hoor wat die ‘groep’ sê, ek moet goedkeuring by die ‘groep’ kry.”

Hy is egter ’n soort vrydenker, en onafhanklik van ’n groepdinamika, sê hy.

“Dit beteken nie ek het die regte antwoord nie, maar dis my opinie. Daai opinie is gereed om gekorrigeer te word deur ’n ander beter opinie. Die plek waar ek vandaan kom, het egter ’n kollektiewe opinie en daarmee moet jy jou vereenselwig, want anders is jy nie lojaal nie, dit intimideer mense en hulle onderwerp hulle.

“En omdat ek anders opgetree het as wat die spelreëls voorgeskryf het, het dit my verskriklik duur te staan gekom. Daarom het ek laat in my lewe by be­vordering uitgekom.

“Dit is belangrik dat mense besef diversiteit is nie ’n sonde nie, dis nie ’n gevaar nie. Sodra ons die hek van diversiteit oopmaak, begin jy vertroue by mense skep. Begin besef jy ander is nie so anders nie, en hoef dit nie vir jou ’n probleem te wees nie.”

Teen daardie agtergrond sal hy die KKNK altyd in sy hart saamdra, sê Piedt. “Die KKNK was vir my ’n leerskool. Dit het vir my ’n geleentheid gebied om mense te lei – een van die moeilike dinge. Dis makliker om mense te dryf as te lei. Jy kan mag kry deur ’n struktuur te kaap, maar as jy gesag het, kom dit van die mense af.

“As jy gesag het, moet jou lewe so ingerig wees dat jy die lang pad loop – van beïnvloeding, interaksie, respek vir ’n ander se opinie. As jy nie daai vermoëns het nie, moet jy nie betrokke raak nie.

“Hierdie kunstefees in Oudtshoorn het my gehelp om my menswees te vind. Dit het my gehelp om mens op ’n breër vlak te wees – die respek vir ander, die saamleef met ander, die verdraagsaanheid vir ’n ander opinie omdat daardie persoon die reg het op sy eie opinie.

“Verandering is ’n voortdurende proses. Die verandering in my lewe was beslis ’n verbetering – ek het geskuif van ’n geïsoleerde, gefragmenteerde, rebelerende lewe sonder ’n toekoms­visie vir ander, van onverdraag­saam­heid, ’n kort humeur, veglustigheid waar­aan nie ’n einde was nie – almal negatiewe goed – na ’n nuwe persona van verdraagsamheid, lankmoedigheid, beskikbaarheid, en gewillige ore om na ’n ander te luister.

“My lewe het grondliggend verander deur hierdie kunstefees.

“Ek wil sien dat ons Afrikaans ver­koop. Afrikaans is van Afrika. Dit het hier ontstaan, dis ’n inheemse taal,

“Wat ek by die kunstefees by uitstek gekry het: Ek het gevoel Afrikaans gaan die gemene deler word in die nuwe Suid-Afrika vir hierdie mense wat geen ander verskille het as net die kleur van hulle vel nie.

“In daardie groep lê mense met kapasiteit waarvan Afrika net kan droom, maar ons het toeskouers geraak in stede daarvan om binne die konteks van die nuwe Grondwet en binne nie-rassigheid ons staanplek in die nuwe Suid-Afrika te eis.

“Want kyk, al verwys mense jou na die verlede, die Grondwet beskerm jou. As jy jou met die Grondwet vereenselwig, skud jy by implikasie die verlede af, en dan kan ons begin om nie etnies georiënteer te wees nie. As ons dit doen, sou hierdie land al baie verder gewees het. Dit is die droom wat ek by myself gesien het.

“Hierdie groep Afrikaanssprekendes moet vorentoe kom as ’n kultuurgroep – met hul taal en Christenskap en sonder aansiens des persoons ’n bydrae lewer vir die omvorming van hierdie nuwe samelewing, al sou die swartmense die politieke mag hê. Jy het nie nodig om in die parlement te sit om verandering te bring nie.

“Kom ons verander Suid-Afrika op ’n informele en interaksionêre manier deur vertroue te skep en saam te werk om ons land uit te bou sonder dat ons die politieke mag het.”