Die gastehuis Oakdene in Baron van Reedestraat is ’n goeie voorbeeld van ’n Victoriaanse kothuis. Let op die stoepreling met versierings, die kantversierings op die dakrand en die hortjievensters. Foto’s Liesel le Roux
Deur Hilda Boshoff
WEENS onkunde word die eenvoudige 19de eeuse Victoriaanse kothuise wat vandag nog volop in Oudtshoorn se middedorp en elders staan, nie reg verander of herstel nie en word hulle in die proses mismaak. Die term Victoriaans verwys na die regeringstydperk (1837-1901) van koningin Victoria waartydens die styl gevestig is
Die vroegste huise is van songedroogde kleistene gebou en dan afgewit. Later met die koms van die Skotse klipkappers rondom 1860 is sandsteen gebruik. Die vroegste huise het rietdakke gehad wat later met sinkplate vervang is; die sandsteenhuise is onmiddellik van ’n sinkdak voorsien.
Dié huise het hulle ouwêreldse sjarme te danke aan die samespel van die verskillende kenmerke.
Kom ons konsentreer op die stoep en dak
• Kenmerkend is die oop stoep of veranda met sy gegolfde sinkplaatdak waarvan die sinkplate soms in twee afwisselende kleure geverf is.
• Die stoep was die kuierplek op warm aande en het die hitte na binne afgekeer.
• Die stoepe het aanvanklik ’n houtvloer gehad
• Die stoepdak is deur staalpilare gestut, wat met gietysterhoek-versierings afgewerk is. Soms was die versiering van hout figuursaagwerk, in Engels fretwork genoem.
• Die stoep is met ’n reling van gietyster-of houtversierings afgeskort. Hierdie huise se versierings was as ’n reël nie oordadig nie.
• Daar is dikwels ’n eenvoudige spitsversierinkie op die dak bo die ingang en eenvoudige gietysterkant al op die dakrand aangebring.
• Daar was skuiframe met hortjies; en as benewens die voordeur nog deure op die stoep uitgeloop het, het hulle deurlengte-hortjies gehad (louvres).
• Op die stoepe is potte varings neergesit wat ’n gevoel van koelte moes skep.
• Op die dak is daar ’n lugrooster (klein venstertjie) wat die solder ventileer.
• Daar is rustiekwerk – ’n soort raamwerk – om die deure en vensters.
Jy en jou Victoriaanse kothuis
Hou die volgende in gedagte wanneer jy aan ’n Victoriaanse kothuis werk
• Dit is baie belangrik om nie die stoep toe te bou nie, want die oop stoep is die Victoriaanse boustyl se aanpassing by ons klimaat.
• Die gietysterhoekversierings is moeilik om te behou, maar kan met eenvoudige houtsierwerk vervang word.
• As daar nog ’n houtvloer op die stoep is, is jy van die min gelukkiges. Doen moeite om dit met die regte behandeling te versorg en te behou. Dieselde geld vir die relings om die stoep.
• Die eenvoudige spitsversiering lê dikwels windskeef op die dak. Versorg die oorspronklike of vervang dit met ’n nuwe soortgelyke een.
• Behou die skuifraamvensters en die hortjies en beskerm hulle teen die skerp sonlig. Moderne ysterraamvensters bederf die voorkoms.
• Dikwels word die stutpilare op die stoep met “lywige” baksteenpilare vervang wat afbreuk doen aan die geheel. Dunner houtpilare sal beter lyk.
(Hilda Boshoff is ’n kundige oor die ou argitektuur van Oudtshoorn en ’n voormalige werknemer van die CP Nel Museum. Sy is ook lid van Heritage Oudtshoorn Erfenis – HOE).

Deurlengte-hortjies soos by hierdie huis van Oudtshoorn Oogkundiges is ’n stylkenmerk van ’n Victoriaanse kothuis.

Kenmerkend van ’n Victorianse kothuis is die oop stoep of veranda, soos bo by Jemima’s in Baron van Reedestraat en onder by ’n woonhuis in die middedorp met sy gegolfde sinkplaatdak.


By die Victoriaanse kothuis is dikwels ’n eenvoudige spitsversiering op die dak bo die ingang.

Baie van die kothuise het so ’n klein dakvenstertjie met ’n lugrooster.

Toe die gietysterversierings by dié huis op Oudtshoorn beskadig is, het die inwoners plastiekversierings gevind wat dieselfde voorkoms gee.