Luigi April se tweede boek

Luigi April. (Foto verskaf)

HY hoop hy sal iemand kan inspireer met sy tweede boek, Wandel met die Here, sê die Oudts­hooniet Luigi April. Luigi het as Christelike rym­kletser in 2015 ’n Christelike rymklets-album, Sy Genade, gemaak en in 2017 ’n Engelse boek, A Walk with the Lord, die lig laat sien.

Luigi wat op Oudtshoorn grootgeword het, sê sy nuwe boek is die getuienis van sy lewe en hoe hy te midde van moeilike omstandighede begin werk maak het van sy droom.

Die boek is op 23 April op Googleplay vrygestel en kan afgelaai word teen R85,29. Dit kan ook by Luigi in pdf-formaat bestel word om gelees te word op ’n selfoon, rekenaar of tablet (R80) of ge­druk word met ’n R50-deposito vooraf betaalbaar.

Luigi sê die boek vertel sy verhaal – hoe hy as die seun van ’n enkelmoeder jare lank gesoek het na ’n vaderfiguur, mishandel is deur ’n kêrel van sy ma en onder boelies deurgeloop het. Hy het later deurmekaar geraak met drank en dagga en seksuele losbandigheid. In 2004 het ’n draaipunt in sy lewe gekom toe hy sy lewe aan die Here gegee het. Hy vertel hy het daarna baie keer geval maar weer opgestaan.

“God was nog altyd goed vir my. Hy was saam met my in die goeie en in die slegte tye waarvan ek meeste self geskep het. Ons veroorsaak soms ons eie ondergang deur ons woorde en optrede.”

• Kontak Luigi per WhatsApp by 078 756 4356.