Yolande is ’n ‘fighter’

Regs: Yolande de Villiers het die naweek op Oudtshoorn aangekom. Foto Facebook

Deur Angelique Erasmus
DIT gaan goed met Yolande de Villiers, bobaas-fiets­ryer van Oudtshoorn wat verlede week ’n ope­rasie in

Queenstown moes ondergaan nadat sy haar been tydens ’n bergfietswedren gebreek het.
De Villiers en haar spanmaat, Neill Ungerer, was die voorlopers in die gemengde afdeling van die Build It Trek2Teebus-bergfietswedren toe sy op die derde dag ’n metaalreling by ’n U-draai aan die einde van ’n steil afdraande getref het.

Volgens haar man, Henties, is Yolande se tibia (skeenbeen) gebreek en met skroewe aanmekaar geheg, maar begin dit mooi herstel.

“Sy is baie positief, en sal binne die volgende twee tot drie weke begin met binnenshuise oefeninge om die knie aan die beweeg te kry,” sê hy.

Yolande het reeds met fisioterapie begin. Dit gaan 12 tot 14 weke duur voordat sy weer kan ry.

”Ons is ongelooflik dankbaar dat sy teen die reling vas is, en nie oor die reling nie,” sê Henties. “Sy sou sowat 30 meter ver geval het as sy bo-oor is en verseker erger seer gekry het.”

Yolande glo dat die ongeluk haar net sterker sal maak, en dat sy weer sal opstaan, sê hy. “Sy is baie positief en ’n regte fighter.”