Hulp van hier laat leeus vlieg

Dr Willem Burger van Oudts­hoorn saam met die twee leeumannetjies tydens hul vlug van George na KwaZulu-Natal. Twee vlieëniers van Aifa het dié kosbare vrag help vervoer.  Foto: Aifa op Facebook

Deur Angelique Erasmus
’N PLAASLIKE veearts en die vliegskool Aifa was op 28 April betrokke by die verskuiwing van twee leeumannetjies van ’n wildreservaat tussen Montagu en Barrydale na ’n reservaat in KwaZulu- Natal.
Volgens dr Willem Burger van Oudtshoorn, vol­tydse wildveearts wat ook verbonde is aan die African Wildlife Conservation Foundation (AWCF), het die verskuiwing van die leeus sowat drie maande se beplanning geneem.

Verskeie rolspelers was betrokke, onder meer die Aifa Vliegskool wat twee vlieëniers beskikbaar gestel het om die leeus te vervoer.

Die twee vierjarige mannetjies is die dag van hul vlug vroegoggend deur die vliegtuig by die Sanbona Wildreservaat opgelaai. In KwaZulu-Natal is hulle per bakkie van die aanloopbaan by Mkuza na hul nuwe tuiste in Thanda geneem.

“Wat hierdie vlug baie uniek gemaak het, was die feit dat die leeus nie in kratte vervoer is nie, maar onder verdowing in die vliegtuig, skaars ’n meter van die vlieëniers af,” sê Burger.

Volgens hom was die leeus sowat vyf uur en 20 minute onder verdowing. Die vliegtyd was sowat drie uur en 40 minute daarvan.

“Mens is tydens so iets so ligweg op jou senuwees, en moet eenhonderd persent gefokus wees en konsentreer. Jy kan nie met so ’n operasie ’n fout bekostig nie,” het Burger aan Die Hoorn gesê.

Hy sê dit is nie net die leeus se welsyn wat in so ’n geval ter sprake kom nie – omdat hulle die hele tyd gemoniteer moet word as hul onder verdowing is – maar ook die welsyn van die vlieëniers en ander mense in die vliegtuig.

Burger was vol lof vir al die moeite wat gedoen is om alles gereël te kry.

Volgens hom het Paul Vorster, reservaatbestuurder van Sanbona, die meeste van die beplanning gedoen en permitte gereël, maar was die hele projek uiteindelik ’n spanpoging.

Die verskuiwing van die twee leeuboeties is verfilm en sal moontlik later as ’n dokumentêre rolprent te sien wees.