Titus-moordsaak Maandag hervat

Deur Garnett Wicomb
DIE verhoor van die vier verdagtes in die Preston Titus-moordsaak word Maandag in die rond­gaande hooggeregshof op Oudtshoorn met die getuienis van die ondersoekbeampte, ao Martin le Roux, hervat.

Die saak is op Woensdag 20 Maart om verskeie redes deur regter Nolwazi Boqwana verdaag.

Hofverrigtinge is die oggend versuur toe ’n bekgeveg tussen familie van Magdaleen Titus en hofgangers, meestal ondersteuners van die ver­moor­de soldaat se familie, losgebars het.

Alles het gegaan oor sitplek in die voorste bank in die hof en het plaasgevind terwyl die staatsaanklaer en die verdagtes se regsverteenwoordigers in die kamers met die regter samesprekings gevoer het.

Met die aanvang van hofverrigtinge het die staatsaanklaer die hof om uitstel gevra – eerstens omdat die landdroskantoor se kragopwekker die vorige dag die gees gegee het en daar dus nie tydens beurtkrag met die saak voortgegaan sou kon word nie.

Tweedens het hy die hof om uitstel gevra omdat dit sin sal maak om eers in Mei met die getuienis van die ondersoekbeampte voort te gaan en die kruisondervraging onmiddellik daar­na.

Regter Boqwana het hierna om verskoning gevra vir die probleem omdat sy net soos alle betrokkenes en belangstellendes graag wil sien dat die saak afgehandel word.

“Almal wil sien dat die saak afgehandel word, maar dit is nie moontlik om vandag voort te gaan nie as gevolg van beurtkrag en ’n kragopwekker wat buite werking is.”

Sy het ook gemeld dat Mooi se regsverteenwoordiger, adv Stoffel Prinsloo, met ’n erge seer keel suk­kel.
Boqwana het aangedui dat die af­handeling van die saak prioriteit geniet en die saak vir verdere getuienis in die verhoor binne ’n verhoor van 13 Mei tot 14 Junie 2019 uitgestel.

Titus, Stuurman en January se borgtog is verleng terwyl Mooi in aanhouding bly.