Deur Garnett Wicomb
’N 37-JARIGE vrou van Oudtshoorn is skuldig bevind op aanklag van poging tot moord en Maandag in die Oudtshoorn Streekhof tot vier jaar gevangenisstraf opgelê. Sy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
Die hof het bevind Mona Smit het Clifford Maarman op Unieplein in Oudtshoorn met ’n gebreekte bottelkop in die nek en bors gesteek terwyl hy saam met ’n groep mense gedans het.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het gevra vir direkte gevangenisstraf omdat dit ’n gepaste vonnis is vir die misdryf waaraan Smit skuldig bevind is.
Eugene Roos van die regshulpraad, wat namens Smit verskyn het, het die hof versoek om in ag te neem dat Smit werkloos is en 20 jaar gelede ’n misdryf gepleeg het. Die klaer het ook ten volle van sy beserings herstel.
Smit se getuienis van selfverdediging is deur die hof verwerp. Streeklanddros Retha Pretorius het met vonnisoplegging gesê Smit is aan ’n ernstige misdryf skuldig bevind wat algemeen in die hof se bedieningsgebied voorkom.
“Die hof moet ’n vonnis oplê waarin die genadefaktor in ag geneem word, maar verhoed dat die gemeenskap reg in eie hande neem,”
Nie een van Smit se ses kinders is in haar sorg nie.
Volgens die landdros was Smit nie eerlik met die hof nie. Sy het eers getuig dat sy uit noodweer opgetree het, maar later skuld erken. Sy het Maarman van agter gesteek en hy kon homself nie verdedig nie.
Sy het hom van versuim om onderhoud te betaal beskuldig terwyl hy nie die pa van een van haar kinders is nie.