Weermaghoës se saak weer uitgestel

Deur Garnett Wicomb
TWEE senior weermagoffisiere wat tereg staan op aanklagtes van intimidasie, en dat hulle die polisie in die uitvoering van hul pligte verhinder het, se saak is Maandag uitgestel voor die verhoor kon begin. Die twee beskuldigdes, kol Nkhabu Nthejane en kol Xolanie Mankayi, albei voormalige bevelvoerders van die Oudtshoorn Infanterieskool, pleit onskuldig op al die aanklagte.

Hul regsverteenwoordiger het die hof gevra vir uitstel hangende ’n vertoë wat tot die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV) gerig is.

Nthejane was die bevelvoerder van die Infanterie­skool tydens die beweerde voorval.

Die verhoor was reeds in ’n gevorderde stadium toe die voorsittende beampte, streeklanddros Mark van Wyngaardt, in November 2017 gesterf het en die saak weer op die hofrol geplaas moes word.

Nthejane en Manakayi is na die polisiekantoor in Baron van Reedestraat, nadat die polisie vroeër die aand ’n aantal soldate by ’n kuierplek in Bongolethu in hegtenis geneem het, en het daar op hulle vrylating aangedring.

Streeklanddros Retha Pretorius het die saak uitgestel tot 14 September 2018.