’n Droom vir Dysseldorp

Bo: Ballonne word deur leerders van Dysselsdorp die lug ingestuur tydens ’n byeenkoms waar Chris Swanepoel, kringbestuurder van skole in Dysselsdorp, sy droom vir dié dorp met sowat 2 000 leerders, opvoe­ders ouers en gemeenskapsleiers in die Dysselsdorp Sportstadion gedeel het.  Foto: Higgo Jacobs

Deur Higgo Jacobs
“EK het nie meer raad vir wanorde in skole nie,” het Chris Swanepoel, kringbestuurder van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) ver­lede Woensdagmiddag vir ’n skare van sowat 2 000 leerders, opvoeders, ouers en gemeenskaps­leiers in die sportstadion van Dysselsdorp gesê.

Swanepoel, wat dié byeenkoms saam met sy kringspanlede gereël het, se boodskap aan die vier skole in Dysselsdorp was godsdienstig van aard en het Jeremia 29:11 as uitgangspunt gebruik: “Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie. Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting!”

Swanepoel sê hy het die ondersteuning van die vier skoolhoofde van Dysselsdorp Sekondêr, Dysselsdorp Primêr, St Konrad Primêr en PJ Badenhorst Primêr gehad.

“Die direkteur van ons onderwysstreek, die burgemeester, die plaaslike polisie en die Gemeenskapsforum van Dysselsdorp het almal saamge­werk om ’n sukses van hierdie projek te maak.”

In sy toespraak het Swanepoel verwys na die gebrek aan dissipline en wanorde in skole. “Dit is nie God se droom vir Dysselsdorp nie!”

Hy het ook die ouers aangespreek en gevra wat hulle droom vir hulle kinders is, en vir die kinders het hy gevra wat hulle droom vir die toekoms is. Sy vrou en een van sy seuns was ook teenwoordig en Swanepoel het die pa’s van Dysseldorp versoek om op te staan en verantwoordelikheid vir hul gesinne te aanvaar.

“Vandag het julle ’n afspraak met die Here. Ons sal nooit weer so bymekaar wees soos vandag nie. As julle na Sy wil vra, sal Hy julle gebede verhoor.

“Die ballonne wat ons vandag gaan loslaat, is simbolies van die afspraak wat Dysselsdorp vandag met die Here het,” het hy afgesluit.

Die burgemeester van die Groter Oudtshoorn, raadsheer, Colan Sylvester, wat self lank by Dysselsdorp se skole onderrig gegee het, het ook die leerders gevra om nie hul huislike omstandighede en armoede as verskoning te gebruik hoekom hulle nie kan presteer nie. Dieselfde boodskap is deur ’n plaaslike polisie-offisier oorgedra, sowel as die skoolsielkundige van die Kring 6, Peter Visagie.

Die leerders van die vier skole in Dysselsdorp het hierna ’n wye sirkel op die rugbyveld rondom die kringspanlede gevorm. Swanepoel het op sy knieë gegaan en ’n gebed vir Dysseldorp gedoen en sy T-hemp met die woorde “My Droom” agterop aan een van die leerders gegee. Daarna is talle ballonne die lug ingelaat as simbool van Dysselsdorp se afspraak en verbintenis met die Here.