Deur Garnett Wicomb
DIE saak teen ’n man van Bergsig, Calitzdorp, wat glo drie skote op ’n man afgevuur het, is verlede week in die Oudtshoorn Streekhof vir verdere verhoor uitgestel.
Denovan Abrahams staan tereg op ’n klagte van poging tot moord deurdat hy glo die aand van 9 Junie 2017 vir Francois Tok raakgeskiet het.
Hy pleit onskuldig op die hoofklag, maar skuldig op ’n alternatiewe klagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer.
Sy pleitverduideliking is nie deur die staat aanvaar nie.
Volgens Tok is hy in die linkerrib en -arm getref, waarna Abrahams weggehardloop het.
Die saak dien in die streekhof voor streeklanddros Retha Pretorius.
Hyron Goulding is die aanklaer.
Eugene Roos verskyn in opdrag van die Regshulpraad vir Abrahams wat in aanhouding bly.