Saak uitgestel oor babalyk in sak

Deur Garnett Wicomb
DIE saak teen ’n vrou (34) van Oudtshoorn wat daarvan aangekla word dat sy haar baba vermoor, in ’n plastieksak toegedraai en op ’n vul­lishoop in die middedorp gelos het, is in die Oudtshoorn Landdroshof vir ’n streekhofdatum tot 22 Mei uitgestel.

Landdros Johan Steynberg het in Desember verlede jaar borgtog van R500 aan Katrina Plaatjies van Rose Valley toegestaan. Sy het in haar borgaansoek nie oor die meriete van die saak getuig nie maar wel oor haar persoonlike omstandighede.

Twee munisipale werkers het op 4 Desember verlede jaar op die lyk van die baba afgekom nadat hulle ondersoek ingestel het na ’n slegte reuk in ’n hoek van ’n stegie in die middedorp.
Plaatjies se borgtog en borgvoorwaardes is tot haar volgende hofverskyning verleng.