
Nedine en Jawaahier Petersen, beter bekend as die Jaloersbokkies, tree by die Olyffeesmark op.
Vrydag en Saterdag, 28 en 29 April 2017 • Toegang: Volwassenes: R30 / Kinders: R20 / Motors: R10
Topvermaak, eet en kuier!
DIE derde Prins Albert Kos-en-Olyffeesmark wat Vrydag en Saterdag op die dorp se skouterrein plaasvind, belowe van topvermaak.
Inwoners van nie net Prins Albert nie, maar ook die Klein Karoo en wyer kry die kans om die Karoo se heerlike landbouprodukte en die kunsies van koskenners te waardeer.
So sê Madri Rossouw, president van die Prins Albert Landbougenootskap.
“Kom kuier saam met ons, elke dag van 09:00 tot laat, want tydens hierdie top-kuiernaweek in die Groot-Karoo fokus ons op die produkte van ons omgewing: olywe, vye, kaas en wyn. En ons bied kosdemonstrasies aan deur gassjefs en plaaslike spyseniers van formaat.”
Die hoogtepunte op die naweekspyskaart is die aanbieding deur Francois Ferreira, bekende sjef, kosskrywer en hoof van die Francois Ferreira Akademie op George (Vrydag 28 April en Saterdag 29 April, 16:00). Hy is sedert 1 April die handelsmerkambassadeur van De Rustica Olywe naby De Rust, en daarom sal De Rustica ook sy produkte uitstal en te koop aanbied.
Ridwaan Lockhart van die restaurant Simply Saffron op Prins Albert gaan weer eksotiese geregte voorberei as deel van sý demontrasie, en Gay van Hasselt, melkboer en kaasmaker van faam, gaan meer vertel oor verskillende kase en hul kos-en-drank-pasmaats.
Die vermaakhoogtepunt is die optrede deur die sangeres Nedine wat die Supercool Partytjie-show vir kinders aanbied, asook – saam met Jawaahier Petersen (dogter van Taliep Petersen) – ’n vertoning deur Die Jaloersbokkies.
Volgens Rossouw “gaan ons gaste uit die lekkerste geregte kan kies, ontbyt, middagete en aandete”.
Vir meer inligting oor die mark, besoek princealbert.org.za/prince-albert-landbougenootskap/.
Program Prins Albert Olyfmark – Skouterrein
Vrydag, 28 April 2017
09:00 Stalletjies open
10:00 Kindervermaak.
10:30 Broodbak by Buiteoond
10:30 Lorrierit na O for Olive vir
olyfproe! Bespreek by 083 383 2591
12:00 Koffiebrand by Takskerm
12:30 Kaasdemonstrasie deur
Gay van Hasselt: Stoep
13:00 Veteraanmotorritte
14:30 Olyfpitspoegkompetisie
16:00 Kosdemonstrasie deur die bekende sjef en kosskrywer Francois Ferreira in Luttig-saal. R50 pp – sluit in ’n glas vonkelwyn, ’n kolwyntjie en lekker pryse.
17:30 Musiek-op-die-stoep – tot laat!
Die klanke van Minki van Beaufort-Wes (country), No Name Band van Prins Albert en DJ Tobie.
Saterdag 29 April 2017
09:00 Stalletjies open
10:00 Die Windpompkoeg open.
• Kindervermaak. • Broodbak by Buite-oond. • Musiek-en-dans-op-die-stoep: Dynamite Dance Studio.
• Nedine – Supercool-partytjie-show. Trek partytjieklere aan en dans saam!
11:30 Lorrierit na O for Olive vir olyfproe! Bespreek by 083 383 2591
12:00 Koffiebrand by Takskerm.
Broodbak by Buiteoond
13:00 Veteraanmotorritte
12:30 Kosdemonstrasie: Ridwaan Lockhart van Simply Saffron.
14:30 Olyfpitspoegkompetisie.
15:30 Kosdemonstrasie deur
Francois Ferreira in Luttig-saal.
17:30 Musiek-en-dans-op-die-stoep:
Unity Male Voices, Prins Albert se puik a capella-koor. Die Prins Albert Vastrappers.
19:00 Jaloersbokkies: Kaapse klanke van Nedine en Jawaahier Petersen.