Piff in Bridgton word al hoe groter kopseer

• Inwoners gevra om weg te bly

’N BYMEKAARKOMPLEK in Zebraweg in Bridgton waar mense oor naweke kuier, raak ’n al hoe groter kopseer vir die polisie en inwoners, sê kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudts­hoorn Polisie.
Die “Piff”, soos dié parkeergebied voor die besighede oorkant die Bridgton Sportgronde bekend staan, word naweke in die nagtelike ure ’n kuierplek waar harde musiek gespeel en geraas word, resies gejaag word met voertuie en drank in die openbaar gebruik word.

“Dit gebeur ook nou dat die publiek soontoe gaan om te sien hoe die voertuie jaag en wiele tol,” sê Visser. “Hulle gee as ’t ware vir die mense wat so jaag en raas ’n gehoor.”
Visser sê die mense wat snags daar byme­kaarkom toon geen respek vir die inwoners van die omgewing nie en raas dikwels tot in die vroeë oggendure.

Visser sê die polisie, verkeersdienste en munisipale wetstoepassers beplan om van nou af enige tyd daar toe te slaan.

“Daar is die afgelope twee naweke waar­skuwings gegee en pamflette versprei en mooi gevra vir die mense daar se samewerking. Van nou af gaan daar opgetree word teen diegene wat die wet of munisipale verordeninge oortree.”

Visser het inwoners gevra om nie te gaan kyk as die mense met hulle voertuie jaag nie, aangesien dit gevaarlik is vir voetgangers en hulle so die jaagduiwels aanmoedig om voort te gaan om te jaag.