
Marizka Retief van Oudtshoorn wat die eerste plek gewen het in haar afdeling in ’n liggaamsboukompetisie, die Destiny – Rise of Iron. (Foto verskaf)
‘Ons moet ook aan ons drome werk!’
Deur Liesel le Roux
’N PERSOONLIKE afrigter by Oxigym op Oudtshoorn, Marizka Retief (32), het die eerste plek losgeslaan in die afdeling vir vroue onder 1,63 m by die onlangse Destiny – Rise of Iron-liggaamsboukompetisie in Mosselbaai.
Die kompetisie het op 8 April by die Garden Route Casino plaasgevind.
Die kompetisie is aangebied deur Body Building and Fitness South Africa (BBFSA) en die Physical Culture Association (PCA).
Sy het die kompetisie baie geniet en is baie dankbaar oor haar prestasie, het Marizka vandeesweek gesê.
“Die belangrikste vir my is dat ek graag mense wil motiveer om daarvoor te werk om iets te bereik.
“Ons moet nie net droom nie, maar ook aan ons drome werk.”
Marizka sê sy wil graag mense nooi om met haar te kom gesels.
“Ek sal graag die pad saam met mense wil loop. Ek sal graag mense wil motiveer wat oorgewig is en wat nie oefen nie, om met my te kom praat.”
Sy vertel dat sy met sulke mense kan identifiseer omdat sy self ’n pad gestap het waar sy oorgewig en onfiks was.
Sy het 25 kg gewig verloor deur te begin oefen en deur reg te eet.
Intussen sien Marizka baie daarna uit om einde Junie aan nog ’n liggaamsboukompetisie deel te neem wanneer die Garden Route Casino Bodybuilding and Fitness Classic in Mosselbaai gehou word.