Man wat kar oorlaai in hof vir strafbare manslag

Deur Garnett Wicomb
DIE verhoor van ’n man van Calitzdorp wat van strafbare manslag aangekla word, is in die Oudts­hoorn Streekhof uitgestel na ’n versoek van die ver­dediging om ’n sleutelstaatsgetuie terug te roep.

Petrus van Wieling word daarvan aangekla dat hy op 29 Desember 2016 op die Calitzdorp-pad ’n ongeluk veroorsaak het wat gelei het tot die dood van Keanan Prinsloo wat uit ’n bakkie geval het.

Van Wieling het die bakkie met sy Mercedes Benz probeer verbysteek, maar van plan verander uit vrees dat hy met ’n aankomende voertuig sou bots. Daar was agt volwassenes en twee kinders in sy motor.

Sy bewering dat die bestuurder van die bakkie wat hy wou verbysteek, Alwin Prinsloo, ook spoed verminder het, word deur die staat bevraagteken.

Volgens die verdagte het hulle die betrokke dag langs die pad net buite Calitzdorp gekuier.

Op ’n vraag van die staatsaanklaer, Willem Vister, of hy onder die invloed van drank was, het Van Wieling getuig dat hy ’n laaste whisky teen tienuur die oggend gedrink het. Volgens hom het ’n vriend feitlik driekwart van die bottel whisky gedrink.
Hy het ontken dat van sy passasiers hom gevra het om stadiger te ry.

“My motor is ’n vinnige motor en alhoewel dit vir hulle gelyk het asof ek te vinnig ry, was ek binne die spoedgrens,” het Van Wieling getuig.

“Die motor het ’n baie sterk enjin,” het hy bygevoeg.

Van Wieling het ook getuig dat passasiers agter in sy motor nie die spoedmeter kan sien nie, al het ’n persoon ook, soos wat Minette Fortuin getuig het, op die skoot van ’n ander gesit.

Nigel Maart, wat tussen die oorledene en die bestuurder van die bakkie gesit het, het getuig dat Prinsloo nie sou gesterf het indien hy nie die bakkie se deur na die botsing oopgemaak het nie.

“Ons was nie een vasgegordel nie en ek het hom gewaarsku om nie die deur oop te maaak nie,” het hy getuig.

Streeklanddros Retha Pretorius het die versoek van Van Wieling se regsverteenwoordiger, Clyde Avontuur, dat die getuie teruggeroep word, uitge­stel tot gister.