Uiteindelik weer aksie op Oudtshoorn-De Rust-pad
Deur Liesel le Roux
DIE kontrak vir die voltooiing van die pad tussen Oudtshoorn en De Rust is aan Roadmac Surfacing Cape (Pty) Ltd toegeken, sê Byron la Hoe, woordvoerder van die Wes-Kaapse Departement van Vervoer en Openbare Werke.
Die kontrak is amptelik sedert 15 Junie van krag.
Die bouwerk is vir die volgende 18 maande geskeduleer met voltooiing van die projek in Desember 2019.
Die kontrak sluit die verbreding van die pad vanaf Oudtshoorn tot net verby die afdraai na Dysselsdorp in en die herseëling van die res van die pad tot deur De Rust.
Die Wes-Kaapse Departement van Vervoer en Openbare Werke moes ’n nuwe kontrakteur vir dié padprojek aanstel nadat die vorige kontrakteur, NMC, onder likwidasie geplaas is.
Bou- en opgraderingswerk aan die pad het op 4 Desember verlede jaar tot stilstand gekom toe NMC sy personeel onttrek het. NMC het in Maart 2017 met die bouwerk aan die pad begin.