Eerste fondse vir ’n erfenisstudie bewillig

Historiese huise en geboue in strate naby die sakekern van Oudtshoorn – soos hierdie huise in Hoogstraat – sal deel uitmaak van ’n erfenisstudie wat goedgekeur is vir die Groter Oudtshoorn. Foto: Liesel le Roux
Ingevolge wetgewing is dit die verantwoordelikheid van ’n munisipaliteit dat ’n inventaris van alle geboue ouer as 60 jaar opgestel moet word, en dat ’n munisipaliteit na sy erfenisgeboue moet omsien.
Deur Liesel le Roux
DAAR is goeie nuus vir diegene wat besorg is oor die behoud en bewaring van die groot hoeveelheid historiese huise en geboue in die Groter Oudtshoorn – insluitend gebiede soos De Rust, De Hoop en Volmoed.
Die munisipaliteit het in sy begroting vir 2018/2019 die eerste keer fondse bewillig vir ’n erfenisstudie van huise en geboue ouer as 60 jaar.
Ingevolge wetgewing is dit die verantwoordelikheid van ’n munisipaliteit dat ’n inventaris van alle geboue ouer as 60 jaar opgestel moet word, en ook dat ’n munisipaliteit na sy erfenisgeboue moet omsien. As vertrekpunt sal die begrote bedrag van R120 000 aangewend word om ’n kundige diensverskaffer aan te stel om opnames en studies te doen ten einde ’n erfenisgebied ten opsigte van respektiewelik Oudtshoorn en De Rust te bepaal en as sodanig te registreer by Wes-Kaap Erfenis.
Jaco Eastes, bestuurder: beplanning en ontwikkeling by die munisipaliteit, het verlede Donderdag by ’n vergadering van Heritage Oudtshoorn Erfenis (HOE), die komitee hieroor ingelig.
Wanneer sulke gebiede bepaal is, sal spesiale argitektoniese riglyne en kriteria oor nuwe bouwerk en aanbouings byvoorbeeld daar geld.
Eastes het gesê daar sal waarskynlik begin word met die groot aantal huise en geboue in en om die sentrale sakesentrum, soos in Hoog- en Baron van Reedestraat.
Die munisipaliteit sal binnekort tenders aanvra van kundiges vir so ’n opname en studie.
Hazel Jonker, voorsitter van HOE, het gesê die organisasie verwelkom dié verwikkeling en sal graag ’n ondersteunende rol speel om te help waar nodig met opnames en om inligting wat deur die jare versamel is, beskikbaar te stel.
“Deur te begin met geboue en huise in die middedorp kan ’n historiese sentrum op Oudtshoorn geïdentifiseer word. Dit is baie belangrik dat so ’n proses begin. HOE vra al jare lank daarvoor.”
Volgens Jonker kan die belangrikheid van erfenisgeboue in ’n toerismedorp soos Oudtshoorn nie onderskat word nie.