Lede van Popcru Dinsdag buite die Oudtshoorn Polisiekantoor. Foto: Angelique Erasmus

Werkers staak Dinsdag by Bolton Footwear op Oudtshoorn. Foto: Angelique Eramus
Deur Angelique Erasmus
’N LANDWYE gesamentlike staking deur lede van Sactwu (South African Clothing and Textile Workers’ Union) en Nulaw (National Union of Leather and Allied Workers) wat die land se skoenvervaardigingsbedryf tot stilstand gebring het, het ook die week uitgekring na Bolton Footwear op Oudtshoorn.
Sowat 600 werkers het Maandag daar begin staak. Hulle eis ’n loonverhoging van 9,5% asook menslikheidsverlof vir wanneer naasbestaandes siek is, en nie net in die geval van sterftes nie.
Werkers wat lede is van die vakbond Popcru (Police and Civil Rights Union) het Dinsdag voor die Oudtshoorn Polisiekantoor en by Korrektiewe Dienste betoog.
Volgens ’n memorandum van Popcru wat Beauty Stoffel, provinsiale ondervoorsitter van Popcru Wes-Kaap, aan Die Hoorn beskikbaar gestel het, eis hul onder meer promosies vir alle lede met 10 jaar of meer diens, “een polisiediens met een polisiebeleid”, herstrukturering binne die polisie, die beëindiging van kwessies soos perso-neeltekorte en oorbevolkte gevangenisse, en die beëindiging van die uitkontraktering van dienste.
Popcru se optrede was deel van ’n nasionale veldtog voor ’n groot protesoptog Vrydag in Pretoria.