Deur Garnett Wicomb
’N 19-JARIGE man van Ladismith wat die 73-jarige Jacobus Parsons twee dae voor sy dood met ’n stuk yster geslaan het, is Vrydag in die Oudtshoorn Streekhof vrygespreek op ’n klagte van moord, maar skuldig bevind aan aanranding met die doel om ernstig te beseer.
Denrico Jaftha (19) het erken dat hy die aand van 19 Julie 2016 vir Parsons geslaan het, maar nie bedoel het om hom dood te maak nie. Hy het in sy pleitverduideliking gesê hy is jammer.
Volgens Jaftha het hulle saam in ’n buitekamer gewoon. Hy het die betrokke aand laat tuis gekom en Parsons wou glo nie die deur vir hom oopmaak nie. Hy het kwaad geraak, die deur oopgeskop en Parsons met die stuk yster geslaan.
Streeklanddros Retha Pretorius het gesê die hof kon nie bevind dat Jaftha bedoel het om Parsons dood te maak nie. Volgens haar was die beserings nie so dodelik nie en sou Parsons se lewe moontlik gered kon word as die ambulans nie eers na twee dae opgedaag het nie. Die polisie het ook eers die dag na die voorval opgedaag.
Sy het egter bevind dat Jaftha moes voorsien het dat hy die oorledene ernstig kon beseer. Vonnisoplegging is vir ’n korrektiewe verslag uitgestel.